Verlede maand
Trane oor koma-seun
GEBROKE: Aljondré se ouma Heather Beyers kan nie oor sy dood kom nie.  ~ Peter Abrahams

NÁ DRIE dae in ’n koma en met sy lyf aan masjiene gekoppel, het die koeël­ in sy brein uiteindelik sy lewe geëis.

Aljondré Beyers (14) van Leonsdale in Elsiesrivier is Saterdag in die kop geskiet toe gangsters op mekaar losgebrand het.

Sowat 40 skote is afgevuur en een van dié koeëls het Aljondré se brein deurboor toe hy in die kruisvuur vasgevang is.

By Son se besoek gister aan sy familie was hulle gebroke en kon hulle nog nie sy wrede dood aanvaar nie.

Aljondré het Maandag aan sy wonde beswyk.

BIED HULP AAN: Rdl. Franchesca Walker praat met Aljondré se ouers, Althea Beyers en Johan Baadjies, oor sy begrafnis.

Volgens Heather Beyers het haar geliefde kleinseun saam met sy vriende gespeel toe hy getref is.

Heather sê toe hulle die tyding ontvang dat hy in die kop gewond is, het hulle dit eers nie te ernstig opgeneem nie.

Eers die tweede keer toe iemand weer die tragiese boodskap bring, het hulle gaan kyk wat aangaan, sê sy.

Soek

Heather vertel: “Ek het op my bed gelê toe ek die skote hoor afgaan. Ek het net die bloed van die Here gepleit.

“Ek het opgestaan en hulle het steeds aanhou skiet.

“Aljondré se ma wou na hom gaan soek, maar sy kon nie, want die skietery wou nie ophou nie.

“Intussen het hier twee keer mense kom sê dat hy raakgeskiet is.

“Ek het net gedink: Nou waarom sou hý dan raakgeskiet wees?

“Toe sy ma gaan kyk, het hulle hom reeds in die kar gelaai om hom hospitaal toe te neem.

“By die Elsies­rivier-daghospitaal het hulle gesê hulle nie kan sien waar die koeël is nie en dat hy Tygerberg toe moet gaan.”

Volgens Heather het die dokters by die Tygerberg-hospitaal vir hulle gesê sy toestand is kritiek en hy is onstabiel.

Aljondré Beyers

Hoewel hy toe nog lewend was, was sy brein besig om funksie te verloor, voeg sy by.

Heather sê sy het tog bly glo, want vir die Here is niks onmoontlik nie.

Maar net toe sy van die hospitaal af by die huis aankom, het sy die tyding van sy dood ontvang.

“Dit voel asof ek kan mal raak en net weghardloop.

“Ek wens hy kan net weer huis toe kom. Ek kan nie slaap of eet nie.

“Ek het vir die Here gesê Hy kan my maar slaan met kanker, maar hy moenie my kleinkind wegneem nie.

“Aljondré het ’n baie spe­siale plek in my hart gehad,” vertel sy huilend.

Rdl. Franchesca Walker het Aljondré se ouers ook besoek en onderneem om hul seun met geld uit die Burgemeestersfonds te begrawe.

Sy sê: “Hierdie sal nie die eerste keer wees nie. Ek het al baie minderjariges hier in Leonsdale begrawe en bystand­ aan hul familie gegee.

“Dié families het nie geld wat rondlê nie, so hulle kan nie nog hierdie burden op hulle neem nie.

GEBROKE: Aljondré se ouma Heather Beyers kan nie oor sy dood kom nie.

Arrestasies

Walker sê sy wag net vir die ouers om die papierwerk aan haar te gee sodat sy die bal aan die rol kan sit.

Sers. Wesley Twigg, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie ondersoek die saak.

Volgens Twigg is daar nog geen arrestasies uitgevoer nie, maar die polisie se ondersoek duur voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters