7 dae gelede
Trane oor hero
bedroef: Die familie van die man van Mitchells Plain wat Woensdag by die Swartklip-strand verdrink het, vertroos mekaar. Foto’s: LEON KNIPE  ~ 

’N MAN van Mitchells Plain het Woensdag verdrink toe hy ’n meisie uit die see wou red.

Die voorval het omstreeks 16:30 by die Wolfgat-natuurreservaat naby Khayelitsha gebeur.

Die 29-jarige man het probeer om ’n 13-jarige meisie te red wat self besig was om te verdrink.

Die meisie het in die vlak water gespeel toe sterk seestrome haar al hoe dieper in die water ingetrek het.

Toe die man sien die meisie is in die moeilikheid, het hy sy T-shirt uitgetrek en sy skoene uitgeskop sonder om twee keer te dink.

Hy het in die water gespring om die meisie te red, maar die see was te onstuimig en hy het ook in die moeilikheid beland.

Nog ’n man wat op die strand was, het gesien wat gebeur. Hy is toe óók in die see in om die meisie te hulp te snel.

Menseredders het die tweede man en die meisie uit die onstuimige waters getrek.

Maar die noodlot was nie aan die 29-jarige man se kant nie en hy het verdrink.

Paramedici het hom probeer bybring, maar dit was te laat.

Die ander twee is per ambulans na die hospitaal geneem.

Net ’n dag vroeër het ’n geraamte op Bloubergstrand uitgespoel.

Die geraamte is Dinsdag op die strand in Kleinbaai opgemerk.

Daar was gerugte dat nóg ’n geraamte Sondag op Bloubergstrand uitgespoel het, maar die cops kon dit nie bevestig nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters