Verlede maand
Tragedie ruk ma, baba weg
STAAN sterk: André Jacobs sê hy het wel vrede in sy hart met sy geliefde vrou, Michelle Jacobs, se dood.  ~ PETER ABRAHAMS

’N JONG pa sal nou sy drie kinders alleen moet grootmaak nadat sy swanger vrou en hul ongebore baba skielik gesterf het.

Dié tragedie het André Jacobs (37) en sy drie kinders, Devonique (17), Chelsea (8) en Joel (4) laas Sondagmiddag by hul huis in Selfhelp, Belhar, getref.

André het aan Son vertel hy en sy 36-jarige vrou, Michelle, wat agt maande swanger was, was tuis toe sy krampe begin ervaar.

Hy sê dit was aanvanklik nie baie erg nie en oor sy alreeds ver swanger was, het hulle gedink sy ervaar net draaipyne.

André vertel: “Die dokter het gesê ons kan dít verwag.

“Wanneer die pyn gekom het, sou ek haar help en sy sou dan vra dat ek haar help om op haar sy te draai.

“Die pyn sou dan weggaan. Ons was veronderstel om na haar broer se kind se inseëning te gaan, maar het nooit so ver gekom nie.

“Teen 13:00 het sy begin swak voel. Sy het vinnig begin agteruitgaan en dit kon ek nie aanvaar nie.

“Ek het dadelik gesê ons moet my vrou hospitaal toe neem. Haar mammie het gekom en haar probeer help aantrek.

“Toe lyk dit asof sy deurmekaar raak. Sy’t net haar kop geskud en haar ma styf vasgedruk.”

André vertel toe hulle by die Louis Leipoldt Mediclinic aankom, het die dokters en verpleegsters haar onmiddellik gehelp. Hy sê hulle het gespook om haar en hul ongebore dogtertjie se lewe te red. Hy kon vanuit die ander vertrek hoor hoe hulle haar probeer bybring.

Gehelp

André onthou hoe die dokters dit vir ’n baie lang tydperk gedoen het.

’n Baie kalm André vertel: “Die dokter en twee male nurses het na my toe gekom.

“Ek het dit half verwag dat hulle gaan sê my vrou dit nie gemaak nie. Die dokter het gesê hy wil eers met my praat en dan met my ander familie. Dis toe ek weet...

“Hy’t gesê hy het regtig hard probeer om beide baba en mamma te red, maar haar hart was te swak.

“Ek kon dit nie begryp nie. Ons was dan besig om ons voor te berei vir die baba se geboorte op 3 November.

“Die kinders was dan so excited.”

André sê sy vrou het ’n vol lewe gelei en was baie lief vir die Here. Hy sê Michelle het vir haar medemens gelewe en in haar werk as haarstilis het sy elke dag haar klante met die woord van God bemoedig.

André sê sy was ’n bidder en dat hy baie van haar karakter in hul kinders sien.

“Sy sou wou hê ons kinders moet die Here dien.

Vrede

“Sy was my beste vriend en al waaroor ons elke dag gepraat het, was God. Ons ministry in die Here was vir ons baie belangrik.”

André sê hy het vrede in sy hart en dis net gebed wat hom en sy familie deur dié tragedie sal help.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters