7 dae gelede
Tragedie ná 3 diagnoses
AMELIA KEMP FOTO verskaf  ~ 

EERS was sy swanger. Toe sê die hospitaal nee, dis maagkanker.

En nou is sy dood aan tuberkulose.

Amelia Kemp (20), ’n jong ma van Happy Valley naby Blackheath, is onlangs oor­lede nadat sy drie dae lank van erge maagkrampe gekla het.

Amelia is op 12 Februarie – knap voor Valentynsdag – na die Eersterivier-hospitaal.

Haar berk, Anwill Schroeder (23), het haar vergesel.

Anwill sê Amelia is dadelik in die hospitaal opgeneem.

“Ek is alleen terug huis toe en het die volgende dag teruggekom. Die verpleegpersoneel het vir my gesê Amelia is swanger.”

Anwill sê hy en Amelia was baie opgewonde oor die nuus. Toe hy by haar weg is, het sy baie happy gelyk.

hospitaal: Aanvanklik is by die Eersterivier-hospitaal gedink Amelia is swanger, maar dit lyk nou of dit nie die geval was nie. Foto’s: jonathan lestrade

Twee dae later, op 15 Februarie, het hulle “goeie nuus” in ’n nagmerrie ontaard.

“Ek is toe weer hospitaal toe om gaan hoor hoe dit met Amelia gaan.

“Daar gekom, moes ek hoor sy is nou nie meer pregnant nie – sy het maagkanker.

“Amelia is op 17 Februarie ontslaan – sonder enige medikasie en met net ’n brief wat sê sy moet by die naaste kliniek uitkom,” vertel Anwill hartseer.

Anwill se suster, Hellouse Schroeder, sê Amelia is toe ’n dag ná haar ontslag na die Blue Downs-kliniek

Hier, sê Hellouse, het nog ’n skok op hulle gewag.

“Nurses by dié kliniek het ’n speekseltoets gedoen en uitgevind Amelia het nie maagkanker nie, maar tuberkulose.

“Amelia is dadelik op medikasie gesit, maar ’n week later – terwyl sy met haar eenjarige kind by die huis was – het sy onophoudelik begin opgooi.

“Toe ek laas Woensdag (6 Maart) by die huis kom, het Amelia buite by ’n kraan gelê in ’n plas bloed. Sy was morsdood.

ontroosbaar: Hellouse Schroeder kan nie oor Amelia se dood kom nie.

“Ons soek antwoorde. Hoe kan sy eers pregnant wees, toe maagkanker hê en toe TB? Het die verpleegsters nie hulle job reg gedoen nie?” wou Hellouse snikkend weet.

Anwill sê hy en Amelia was 10 jaar in ’n verhouding.

Hy skep eers diep asem en sê toe: “Dié is die k*kste ding wat al ooit met my gebeur het.

“Amelia was ’n lieflike mens en ek gaan haar baie mis. Wanneer ek in ons seuntjie se gesig kyk, mis ek haar.

“Wat ook baie seermaak, is dat daar familie van haar is wat haar doodsgeld uitgetik het.

“Amelia se laaste woorde aan my was dat sy ons kind mis en nie kan wag om hom weer te sien nie.

“Nou gaan ons háár nooit weer sien nie.”

Sithembiso Magubane, ’n provinsiale woordvoerder oor gesondheidsake, het bevestig dat Amelia wel op 12 Februarie in die hospitaal in Eersterivier opgeneem is.

Volgens Magubane is toetse gedoen om te bepaal of sy swanger is, maar die uitslag was negatief.

Haar speeksel is weggestuur vir toetse en die korrekte treatment vir haar kondisie is voorgeskryf.

Hy het nie uitgebrei oor wat haar “kondisie” was nie.

Magubane het ook bevestig Amelia is uit die Eersterivier-hospitaal ontslaan met ’n brief dat sy by die Blue Downs-kliniek met haar behandeling moet voortgaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters