22 dae gelede
Tot weersiens
HARTSEER FAMILIE: Genl.maj. Jeremy Vearey oorhandig gister op die gedenkdiens ’n ruiker aan die familie van wyle lt.kol. André Kay (52).  ~ Peter Abrahams

DIE polisie sal soek totdat hulle die moordenaar van die vermoorde cop van Bishop Lavis vastrek.

Dít was gister die bemoedigende woorde van genl.maj. Jeremy Vearey op die gedenkdiens vir die ontslape cop, lt.kol. André Kay (52), wat verlede week koelbloedig doodgeskiet is.

Familie en vriende van André, wat in sy motor voor sy huis se oprit doodgeskiet is, het gister ’n roerende gedenkdiens in Belhar vir hom gehou.

Vearey het hom as ’n “warrior” beskryf wat altyd geregtigheid gesoek het.

André se suster, Shaam Kay, en Vearey het elkeen ’n kers te herdenking van sy lewe aangesteek.

Shaam het in haar huldeblyk die polisiediens en vriende bedank vir hulle ondersteuning in dié droewige tyd wat hulle nou deurgaan.

’n Hartseer Shaam sê: “My broer was ’n lieflike persoon wat vir sy werk gelewe het.

“Ek is baie trots op my broer, vir die manier hoe hy na ons ma omgesien het.

“Hy was baie lief vir sy familie.”

Sy kollega kol. Johan Bester sê: “Ek is baie kwaad en hartseer oor die manier hoe my kollega se lewe beëindig is.

“Hy het ’n groot hart gehad en dit was ’n plesier om saam met hom te werk.

“Hy het sy werk altyd volgens die boek gedoen en ons gaan hom baie mis.”

André was 32 jaar lank in die polisiediens en het sy loopbaan by die Bishop Lavis Polisiestasie begin as ’n konstabel.

Hy het deur die jare ook al by die Nyanga- en Kirstenhof Polisiestasie gewerk.

Hy het al verskeie medaljes en sertifikate vir sy troue diens ontvang.

Die laaste jare het hy gewerk by die Wes-Kaapse polisie-eenheid vir die uitreiking van permitte vir vuurwapens, dranklisensies en regulering van tweedehands­winkels.

André is vroeg ver­lede Donderdagoggend deur die venster van sy motor aan die bestuurder se kant een keer in die nek en vyf keer in die bors geskiet.

Hy het sy motor uitgetrek om ’n vriend die betrokke oggend na die Tygerberg Hospitaal te neem, toe hy doodgeskiet is.

Niemand is nog vir sy moord gearresteer nie.

Sy begrafnisdiens word môre 11:00 by die Durban­ville Memorial Park gehou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters