Verlede maand
Top-Valk val in spogbuurt
Kol. Huitbrecht Christina Stemmet (47)  ~ Foto Verskaf

DIE Valke in die Wes-Kaap is in skok en rou gedompel nadat een van hulle lede by haar huis in West Beach in Table View dood is.

Kol. Huitbrecht Christina Stemmet (47) se lyk is Sondagaand met ’n skietwond gevind. Luidens ’n verklaring van die Valke is daar twee keer geskiet.

“Die motief vir die voorval is nog onbekend,” het lt.kol. Philani Nkwalase, provinsiale woordvoerder van die Valke, gesê.

Stemmet was lid van die eenheid se span wat ernstige korrupsie ondersoek.

Nkwalase het benadruk dat die voorval nie met haar werk verbind word nie.

Die polisie het ook gerugte gesmoor dat Stemmet twee keer geskiet is.

Nog ’n gerug was dat die voorval uit domestic violence gespruit het.

Ook dié storie is deur die polisie verwerp.

Luidens die Valke sal ’n nadoodse ondersoek volg en sal ballistiese toetse gedoen word op die vuurwapen wat op die toneel gevind is.

Met Son se besoek aan West Beach was die spogbuurt tjoepstil.

Nkwalase het bygevoeg: “Ons innige meegevoel gaan aan Stemmet se familie en kollegas.”

Volgens hom duur die onder­soek na die omstandighede rondom die dood van die toegewyde beampte voort.

  • In Julie is die pa van ’n lid van die Valke voor sy huis in Melkbosstrand doodgeskiet. Dit is steeds nie bekend of die seun die eintlik teiken was en of die hit op hom was nie.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters