Verlede maand
Top-spietkop groet die job
ANTIEK: Kenny Africa (65) het nog ’n ou blou lig.  ~ Peter Abrahams

PROBEER op ’n daaglikse basis ’n verskil maak in iemand se lewe.

Só praat Kenneth Herman Rodney Africa (65), meer bekend as Kenny, Wes-Kaapse verkeershoof wat 46 jaar lank ’n verkeersbeampte was.

Die Ridder van die Langpad tree aan die einde van Julie uit sy pos as verkeershoof.

Sy volgende bestemming op die pad vorentoe kan in die politiek wees, maar hy oorweeg dit nog.

Africa is sedert 2010 die Wes-Kaapse verkeershoof.

Hy is bekend as iemand wat oppie bôl is en weet wat op die paaie aangaan.

Africa is so nederig as kan kom. Hy sê hy het geleer om altyd die minste te wees.

Op ’n vraag hoekom hy nie heeldag in die kantoor sit nie, sê hy hy moet weet wat op die paaie aangaan.

“As ’n minister of iemand my bel om te vra wat gebeur het, moet ek kan sê wat aangaan.”

Toe Son by Africa opdaag, was hy al van drie-uur die oggend af wakker en besig om te werk nadat twee vragmotors op die N1 aan die brand gesteek is.

Hy vertel van die moeilike dae van apartheid en hoe hy selfs wou moed opgee, maar ’n vriend het hom aangemoedig om te bly.

“Daardie dae het bruin verkeersbeamptes nooit nuwe motors gekry nie.

“Hulle moes die wit beamptes se ou karre kry, maar die heaters is eers uitgehaal.

“Ons het selfs ander uniforms as die wit beamptes gedra.”

HANDSOME COUPLE: Kenny Africa en sy vrou Trudy in hul jong dae. Foto: Verskaf

Africa is in Genadendal gebore. Hy wou eers ’n staatsaanklaer word, maar hy kom uit ’n arm huis en daar was nie geld nie.

“Een Paasnaweek was verkeersbeamptes hier en toe ek die blou ligte sien, het ek besluit om ’n traffic cop te word.”

Moeilikheidmaker

Africa het in die 1970’s Kaapstad toe gehike en gaan aansoek doen vir ’n werk waarvoor hy etlike kere aansoek gedoen het, maar nie gekry het nie.

Deur die jare het hy in Worcester en Beaufort-Wes ook gewerk.

“In Beaufort-Wes is ek as ’n moeilikheidmaker gesien, maar ek wou net regte gehad het, soos almal.”

TROTSE TRAFFIC: Africa as ’n jong verkeersbeampte. Foto: Verskaf

In Beaufort-Wes het hy ’n sesde sintuig gehad en geen gesteelde kar het verby hom gery nie. “Ek het talle kardiewe en moordenaars gearresteer.”

Sy vrou, Trudy (66), was ’n onderwyseres. Sy vertel Africa is ’n genuine man. Hulle is al 43 jaar getroud.

Op ’n vraag hoe sy dit uithou met die mense wat so aanhoudend bel, sê sy sy wou al die foon in die swembad gooi.

Sy vertel laggend: “Hy sal altyd help in die huis en hy was skottelgoed, maak die bed op en hang wasgoed op. Hy sal nooit in die kombuis wees nie. Die kinders en kleinkinders is ook belangriker as ek.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters