8 maande gelede
Top cop se gesin soek net justice
BLOU LYN: Lt.kol. Charl Kinnear se lyk word by die kerk uitgedra.  ~ Peter Abrahams

GEREGTIGHEID, nie wraak nie.

Dít is wat lt.kol. Charl Kinnear se vriende, familie en kollegas verlang.

Die bedroefdes het hul begeerte Saterdag op Kinnear se begrafnisdiens gedeel met ander roubeklaers wat hul laaste eer aan hom kom betoon het.

Kinnear, ’n topspeurder in die polisie se eenheid teen bendes en ’n pa van drie, is op 18 September in ’n sluipmoordaanval voor sy huis doodgeskiet.

Verskeie hooggeplaastes, onder wie Bheki Cele, minister van polisie, Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, Albert Fritz, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, eerw. Chris Nissen, genl.maj. André Lincoln en genl.maj. Jeremy Vearey, het die staats­begrafnisdiens bygewoon.

Die diens is deur dr. Llewellyn MacMaster van die VGKSA Kaapland-streek in die Every Na­tion-kerkgebou in N1 City behartig.

Kinnear se vrou, Nicolette, en sy drie seuns, Carlisle, Rozario en Casleigh het die voorste sitplekke ingeneem.

Kaptein FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder en Kinnear se jare lange close vriend, het gesê hy was ’n gesinsman wat met lof van sy seuns en vrou gepraat het.

Hy sê Kinnear was altyd versigtig, beskermend en waaksaam. “Vir my was hy meer as ’n kollega, hy was soos ’n broer.”

Waarskuwing

Nissen het gevra dat geregtigheid moet geskied.

“Toe my twee broers destyds vermoor is, was hy die ondersoekbeampte. In sy loopbaan het hy deur sy werk geregtigheid gebring vir baie families wat geliefdes verloor het. Hy verdien dit ook.”

AFSKEID: Lt.kol. Charl Kinnear se familie sit langs sy graf. Foto: Peter Abrahams

Nissen het ’n waarskuwing vir die killer(s): “God slaap nie vir julle nie. Julle kan maar hardloop, maar julle sal nie ver kom nie.”

Winde sê Kinnear het die polisie se naam hoog gehou.

MacMaster het die Kin­near-egpaar getrou en ook albei Kinnear se ouers begrawe. In sy boodskap oor die verhaal van Kain en Abel (Genesis 4) het hy die polisie oor die vingers getik.

Hulle is ná die sluipmoord op Kinnear sterk gekritiseer omdat die beskermingsdiens by sy huis onttrek is.

“God het dinge in ons hande gelos, maar ons het die teiken gemis. Die Here sê: ‘Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My.’

“Maar hulle (die polisie) het die merk gemis. Ja, jy moes jou broer opgepas het.”

Cele het vir MacMaster gesê al wat hy van Kain en Abel se verhaal leer, is dat daar van toe af moorde was.

“Dit beteken nie ons moet daaraan gewoond raak nie.”

Hy het die gesin belowe dat die polisie alles sal doen om Kinnear se killers te kry.

“Geen polisielid kan rus terwyl ons nie weet wat hier gebeur het nie. Ek het al baie polisielede se begrafnisse bygewoon, maar hier voel ek ekstra pyn.

Oorlog

“Toe ek laas hier was, het ek gevra dat ons moet uitvind wie die beskermingsdienste gekanselleer het terwyl sy lewe elke dag bedreig was. Die koppe moet rol hieroor.”

Cele het die “vrot appels” in die polisie aangespreek.

“Hier is ’n oorlog aan die gang. As jy saam met die misdadigers werk, moet jy jou by hulle aansluit.”

Kinnear se seun Casleigh het die bedankings gedoen.

“Baie dankie aan my pa se span. Dankie dat julle beurte gemaak het om ons te beskerm. En dankie vir jul ondersteuning, ook in dié tyd.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters