Verlede maand
Tjommies oor naweek dood
Onskuldig: André Stevens is Sondagaand in Elsiesrivier doodgeskiet. Foto: LEON KnIPE  ~ 

DIT was ’n naweek vol hartseer vir twee gesinne van Mitchells Plain toe hulle kinders in die voortslepende bendegeweld doodgeskiet is.

Chad-Lee Arendse (19) van Beacon Valley is Saterdagaand in Rocklands doodgeskiet.

Hy was op pad huis toe van ’n 21ste verjaardagpartytjie af toe hy verskeie kere in die kop geskiet is. Hy is op die toneel dood.

Arendse se hartseer ma, Natasha (49), sê hy het saam met vriende in Beaufort-straat vir ’n Uber-taxi gewag om hulle huis toe te neem toe daar op hulle geskiet is.

Sy vertel: “Voor die paartie het hy eers saam met ’n tjommie na ’n braai in Lentegeur gegaan en daarna na die 21st in Rocklands.

“Ons het al geslaap toe iemand ons met die slegte tyding kom wakker klop.

“Ons weet nie hoekom hulle hom geskiet het nie.

“Ek het nooit gedink so iets sal met ons kind gebeur nie.”

Volgens haar was haar seun laas jaar matriek en hy het twee vakke gedruip.

“Chad het Vrydag nog sy laaste vak oorgeskryf en was baie opgewonde.

“Hy wou graag by die navy aangesluit het.”

Arendse was die afrigter van die Littlewood Primêre Skool in Mitchells Plain se drummies, wat pas Vrydag goud in ’n kompetisie gewen het.

Hy was lid van die Wes-Kaapse drummies squad en was ook by die klopse betrokke.

’n Kennis van hom, André Stevens (23) van Montclair in Mitchells Plain, is ook dié naweek doodgeskiet.

Twee van Stevens se vriende is ook gewond in die skietvoorval Sondagaand in Elsiesrivier.

Die vriende was gistermiddag nog in ’n ernstige toestand in die hospitaal.

Stevens het sy girlfriend in Elsiesrivier gaan optel en was op pad terug Mitchells Plain toe.

Volgens sy ma, Mary (49), het ’n motor hulle agtervolg.

By die verkeerslig op die hoek van Adriaanse-laan en Owen-weg het die insittendes op hulle losgebrand.

Sy het vertel: “Ons was nog die Vrydag by die drilkompetisie van Chad.

“My seun het Chad geken, maar hulle was nie hegte vriende gewees nie.”

Stevens is deur sy familie as ’n rustige persoon beskryf wat van sokker en musiek gehou het.

Arendse en Stevens se families sê albei hulle was nie by bendes betrokke nie.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, is niemand nog vir die twee voorvalle gearresteer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters