Verlede maand
Tikkop gee sy ouma hel
KRY SKAAM: Zandré Andrews trek heeltyd sy T-shirt oor sy kop toe Son met hom oor die tik-situasie praat.  ~ Peter Abrahams

’N OUMA vrees sy gaan haar tikkop-kleinseun om die lewe bring soos wat Ellen Pakkies háár seun vermoor het.

Dora Clayton (69) van Avonwood in Elsiesrivier is raadop en dreig om Zandré Andrews (27), haar kleinseun, gif in te gee.

Volgens Clayton verkoop Andrews ál wat ’n ding is in haar huis en treiter hy haar tot in die nagtelike ure.

Sy het nou aansoek gedoen vir ’n beskermingsbevel teen hom, sê sy.

Clayton het aan Son vertel sy is die afgelope ses jaar verantwoordelik vir Andrews en sy twee jonger susters omdat hulle ma ook tik gebruik.

Ongeag die helse nag­merrie waardeur Andrews sy ouma sit, is sy steeds lief vir hom.

Clayton vertel nadat sy hom uit die huis gesit het, het hy haar regdeur die nag lastig geval.

As dit nie vir ’n stukkie brood, ’n koppie tee of kos is nie, is dit vir sout.

Wat dinge die ergste maak, is dat Andrews weet sy ouma sal opstaan om die deur oop te maak, al is dit watter tyd van die nag.

Clayton vertel: “Ek het selfs vir hom ’n ander blyplek gekry, maar hy slaap nie saans nie.

“Elke oggend vroeg tussen 02:00 en 03:00 kom klop hy aan my deur.

“Die ander mense in die huis is so kwaad, want ek maak elke keer die deur oop.

“Soms kom soek hy net ’n bietjie sout. Wat maak ’n mens daardie tyd van die nag met sout?

“Daar is tye dat hy hier kom dat ek my in die kamer toesluit en maak asof ek nie tuis is nie – net sodat hy my in vrede kan los.

“Ander tye gaan steek ek my weg by my vriendin in Smartie Town.”

MOEILIK: Clayton Andrews erken hy gee sy ouma Dora Clayton ’n helse tyd.

Clayton sê Andrews maak hulle omtrent moedeloos deur hulle rot en kaal te besteel.

Sy wys na haar wit selfoon, wat haar kleinseun glo al drie keer gesteel het; dan moes sy dit elke keer gaan terugkoop by die merchants.

“Die mense in die huis is al raadop met hom.

“Hy steel juwele. My kleinseun se Xbox het hy gesteel én my man se selfoon.

Waarheid

“Al wat hy sê, is dat hy die goed by die Nigerians gaan verkoop. Hoe weet ons by wie? Daar is dan so baie van hulle.”

By Son se besoek gister was Andrews tuis.

Hy het erken alles wat sy ouma gesê het, is die waarheid.

Hoewel hy sê hy wil kastig hulp hê, val sy ouma nie daarvoor nie.

Suster Magda Kleyn van die Tehillah-rehabilitasiesentrum het aan Son bevestig sy het plek vir Andrews.

Kleyn het gesê sy gaan dadelik die familie besoek om te kyk wat daar by hulle huis aangaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters