Verlede jaar
Tier wil toer
SPIERPALEIS: Johan Ludick is ’n wenner op die SA Body­building Champion­ships in Knysna.  ~ 

HY IS Elsies se eie spiertier.

Johan Ludick het dié jaar in Knysna deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse Liggaamsbou-kampioenskapstoernooi.

Ludick was eerste in die Master 1-afdeling. Hy is nou gekies om Suid-Afrika volgende maand in Frank­ryk te verteenwoordig.

Dit is die tweede keer dat hy gekies word om oorsee te gaan spiere wys.

Hy is laas jaar ook gekies om Spanje toe te gaan, maar het nie genoeg geld vir die trip gehad nie.

Ludick is baie opgewonde en hoop hy kan vanjaar genoeg insamel om sy droom waar te maak.

Die 43-jarige pa van twee sê dit was nog altyd sy droom om sy land oorsee te verteenwoordig.

Ludick bou al vanaf 17-jarige ouderdom spiere en neem aan liggaamsboukompetisies deel.

Sy liefde vir dié sport kom van sy ma af. Sy was ook op haar dag ’n spiertier.

Ludick is lid van die Elsies River Health & Squash Club en oefen vier tot vyf dae per week.

Sy rolmodel is die filmster en liggaamsbouer Arnold Schwarzenegger.

Hy moet nou meer as R20 000 bymekaar maak om sy trip oorsee te laat gebeur.

Hy gaan verkope hou en ’n disco-aand aanbied om geld in te samel.

Mense wat aan dié tipe kompetisies deelneem, moet gewoonlik hulleself finansier of self borgskappe in die hande kry.

Ludick het vanjaar aan vyf kompetisies deelgeneem. Dis nie maklik vir hierdie ou van die bendegeteisterde Elsiesrivier om aan die gang te bly nie.

Ludick het nog al die jare self reggekom met die finansies, maar kan nie meer nie. Hy vra hulp.

Enige een wat Ludick finansieel wil help, kan hom by 062 591 2279 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters