9 dae gelede
Tiep-gemors lê buurt vol
Morsjorse: Só lyk dit voor die Laerskool Dr. GJ Joubert.Foto’s: Ian Baard  ~ 

SEKERE woonbuurte in die Strand lyk soos ’n vuilishoop.

Dít is hoe die inwoners van Rusthof, Broadlands Park, Casablanca en Sercor Park hul buurt beskryf.

Toe die nuwe skooljaar Maandag begin, het hope­ vullis voor en langs die Laerskool Dr. GJ Joubert in Mydrechtstraat en die Laerskool Rusthof in 11de Straat leerders begroet.

Dis ook nie ál plek waar mense vullis dump nie. Agter die gemeenskapskliniek in Gustrouw, agter die moskee en in Gustrouwlaan lyk dit ook baie sleg.

By ’n speelpark in Sercor-rylaan in Sercor Park en in Casablanca lyk dit erg morsig.

Norah Juries, ’n plaaslike gemeenskapsleier, sê die Stad Kaapstad doen nie genoeg op die probleem op te los nie.

Sy wil weet waar die stadsraad se wetstoepassers is wat dié mense moet vasvat. Sy beweer hulle het onlangs ’n klomp poste geskep, maar niemand patrolleer die gebied nie.

Juries het ook die gemeenskapslede aangespreek wat nie omgee waar hulle hul vuilis smyt nie.

Sy voeg by mense moet vir mekaar respek betoon, asook vir skole en plekke van aanbidding.

’n Inwoner wat anoniem wil bly, sê die probleem sal net verbeter as die morsiges swaar boetes opgelê word.

Hy glo die mense wat hul vullis voor skole en plekke van aanbidding dump, het geen selfrespek nie.

Onderwysers van verskeie skole met wie met Son ook gepraat het, sê die stadsraad sal nie in ander gebiede dumping toelaat nie.

Die onderwysers dink dit is ’n skande dat die gemeenskap so vuil is.

Inbelsentrum

Xanthea Limberg, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir informele nedersettings, water-en-afvaldienste en energie, sê dit kos die Stad elke jaar tussen R110 miljoen en R120 miljoen om plekke in die Stad skoon te maak waar onwettige storting plaasvind.

Volgens Limberg is daar 2 900 plekke waar morsige mense hul vullis dump.

Sy sê die Stad maak die woongebiede in die Strand weekliks skoon, maar sodra dit klaar is, dump mense maar net weer.

Mense kan die Stad se inbelsentrum kontak by 0860 103 089 om te vra dat hy plekke skoonmaak wat vol rommel lê.

As jy iemand wil verkla wat onwettig damp, skakel gedurende kantoorure 021 444 6231/6233.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters