Verlede maand
Tiener(18) sterf ná lang wag
HARTSEER: Shanaaz Solomons kan haar trane nie keer oor Zakier se dood nie.  ~ Jonathan Lestrade

“MOETIE vir my los nie... Moetie vir my los nie!”

Dit was Zakier Loggenberg (18) se laaste woorde aan sy antie voordat hy in die Delft-daghospitaal gesterf het.

Loggenberg het Dinsdag aan sy antie Shanaaz Solomons (46) gesê sy maag pyn.

“Ek het my seun gevra om ons daghospitaal toe te neem,” sê sy.

Solomons sê by die hospitaal het die nurse sy bloeddruk geneem en ook vir ’n urine-monster gevra.

Uitgeroep

“Ek kon sien daar is bloed in sy pee, maar die suster het net gesê: ‘Gaan sit daar.’

“Ná ’n tydjie het ’n ander suster uitgekom en ’n klomp name uitgeroep.

“Ek het gevra hoe lank sal Zakier dan moet wag, toe sê sy hy moet maar net wag omdat daar 45 mense voor hom is.”

Solomons sê as hulle daar moes sit en wag, sou hulle dan in die vroegoggendure huis toe moes stap en dis baie gevaarlik in Blikkiesdorp.

Solomons sê hy het vir haar gesê hulle kan liewer huis toe gaan en dan kan sy net vir hom ’n pynpil gee.

“Ons is so 18:00 huis toe.

“Ek het vir hom die pil gegee en hy het gaan slaap,” sê sy.

Maar teen Woensdag­oggend het Loggenberg erger gevoel.

“Hy het vir my gesê hy kan nie eens pee nie die way die pyn hom het. Later die middag het daar bloedstukkies en ’n bruinkleurige vloeistof by sy mond en neus uitkom. Sy voete was koud.

“Ons is toe weg met hom hospitaal toe en hy skreeu vir my: ‘Antie Naaz, moetie vir my los nie... Moetie vir my los nie!’” sê sy.

Solomons sê hulle is toe weg hospitaal toe waar Loggenberg in ’n rolstoel geplaas en na die trauma-eenheid geneem is.

Daar het hy gesterf.

Deurmaak

“Nou sê hulle vir my hy moes nie die eerste keer weggeloop het nie. Hy het weggeloop omdat hulle te lank gevat het. Hulle kon hom help as ’n ernstige geval,” sê sy.

Solomons sê sy het hom soos haar eie seun grootgemaak en voel baie hartseer oor wat hy moes deurmaak.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid bevestig Loggenberg het op 19 Oktober by die hospitaal aangekom, maar het die fasiliteit verlaat voordat hy gehelp is.

“Toe hy die volgende dag terugkeer, was hy sonder response en die personeellede het hom probeer bybring.

“Ons verstaan dit is ’n uiters traumatiese ervaring vir die gesin.

“’n Gesondheidswerker sal et hulle in verbinding tree om berading en ondersteuning te bied.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters