2 maande gelede
Tiener vat pad
Vermis: Son het destyds ’n storie gedek oor die jong man se gemeenskapswerk.  ~ Jonathan Lestrade

“EUCLID, my kind, kom huis toe...”

Dít is die desperate pleidooi wat Euclid Franks (13) se pleegma, Bonita Franks (46), gister met ’n seer hart gemaak het.

Sy het Euclid op 28 Junie as vermis aangemeld nadat sy besef het hy het weggeloop.

“Hy is hier weg met twee paar skoene en ’n sak wat hy gepak het en ek is so bekommerd omdat hy nog ’n kind is,” vertel Bonita.

“ ’n Buurvrou het na my toe gekom en vir my gesê sy het hom in Delft gesien. Hy het blykbaar vir haar gesê hy is by familie.

“Ek weet daar is familie, maar dit is nie rêrig familie met wie hy meer connected is nie omdat ons nie eintlik in kontak is met mekaar nie.

“Ek het wel kontak gemaak met my niggie wat daar bly, maar sy sê sy het hom nie gesien nie,” vertel ’n bekommerde Bonita.

Die pleegma sê die buurvrou het wel aan haar gesê Euclid­ is in ’n goeie toestand.

“Hy het morning slippers aangehad, maar dit is nie wat hy aangehad het toe hy die huis verlaat het nie.

“Sy het ook genoem dat hy ’n apron aangehad het.

“Ons vermoed dat hy besig is by iemand met ’n feeding scheme en dis waarom sy hom met ’n apron aan gesien het,” sê sy.

Son het juis verlede jaar berig oor die jong man wat ’n sopkombuis gestig het in ’n poging om aan sy gemeenskap terug te gee.

Verantwoordelik

Hy het destyds aan Son gesê: “Ek weet nie of hulle iets het om te eet in die aand of in die oggend nie en ek weet daar is baie mense wat suffer en sukkel.

“En as ek iets kan doen om daai hongerte weg te neem, al is dit net vir die oomblik, sal ek.”

Bonita sê sy is so bekommerd oor hom omdat sy nie weet by presies wie hy is, waar hy slaap en of hy eet nie.

“Ek is sy pleegma en is verantwoordelik vir hom.

“As enige iets met hom gebeur, dan is ek verantwoordelik en ek wil nie hê hy moet iets oorkom nie,” sê sy.

Beskerm

Die mamma sê dis haar hartsbegeerte dat Euclid net huis toe moet kom.

“Hy weet wat die omstandighede hier is en dat ek hom nie afskeep nie.

“Hier kry hy alles wat hy wil hê en ek beskerm hom.

“Dis nie nodig vir hom om in die koue te wees of te skarrel nie.”

Son het navraag aan die polisie gestuur om uit te vind hoe hul soektog na Euclid vorder.

Teen druktyd het die polisie egter nog nie op ons navrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters