7 dae gelede
#KYK: Tiener vas vir ma se moord
HARTSEER: Virginia Kleinsmith beskryf haar vriendin as ’n mens-mens.  ~ 

’N MA van vier se stem is vir ewig stilgemaak.

Haar jongste seun is na bewering die oorsaak van haar ewige stilte.

Die mammie (53) se lewe is Saterdagaand kortgeknip toe sy met ’n mes doodgesteek is.

Die bewering is dat haar 14-jarige seun haar in hulle wendyhuis in Kalkfontein doodgelem het.

Die stille bewyse dat daar ’n vreeslike daad in haar huis gebeur het, is die bloedmerke wat nog Sondagoggend op die yskas en op een van die sitkamerbanke sigbaar was.

Grapjas

Nadat die mammie gelem is, het sy glo aan die yskas gevat voordat sy by die wendy uitgestrompel het.

Net daar het sy inmekaargesak en gesterf.

’n Baie goeie vriendin van die familie, Virginia Kleinsmith, het gister met ’n seer hart die detail gedeel wat hier gebeur het.

Kleinsmith sê: “Sy was nou rêrig ’n mensmens. Sy was ’n grapjas.

“Maar wanneer dit by haar kinders gekom het, was sy ’n streng maar liefdevolle ma. Haar kinders was haar eerste prioriteit.

“Daar was dissipline,” sê Kleinsmith.

Sy vertel dat die ma twee jobs gehad het. Een as ’n skoonmaker by die plaaslike raad en die tweede in die kombuis van Tygerberg-hospitaal.

“Sy het vir haar kinders gewerk en gesorg dat hulle alles het wat hulle benodig,” sê Kleinsmith.

Die hartgebroke Kleinsmith sê al was die ma ’n no-nonsense-mens, was sy baie vrygewig.

“Sy was die persoon wat kos sou uitdeel en haar deur was vir almal oop.”

Sy voeg by haar vriendin was gesteld daarop dat haar kinders se gedrag mooi moet wees.

Sy het hulle nie pak gegee nie, maar hulle gunsteling-gadgets van hulle weggeneem as straf.

Kleinsmith sê sy weet nie presies wat gebeur het nie, maar sy het gehoor die seun was die Vrydagaand uit die huis en het nie teruggekom nie.

“Ek glo dis daaroor dat hulle dalk gestry het.”

Kleinsmith sê oor die klong: “Hy het nie weggehardloop ná die voorval nie. Hy het nog vir hulp gaan soek.

“Hy het hier gewag totdat die polisie opgedaag het.

“Hy het seker self gewonder hoe en wat hom besiel het om só te reageer.”

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

“By die polisie se aankoms op die toneel het hulle die slagoffer met veelvoudige wonde aan haar liggaam op die grond gevind.

“Sy is op die toneel dood verklaar,” sê Van Wyk.

Hy sê verder die 14-jarige seun is gearresteer.

Hy sal binnekort in die Blue Downs-landdroshof verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters