17 dae gelede
Tiener ‘steek ou (21) dood’
DOOD: Carl Jacobs (21) van Hawston is Sondag in die vroeë oggendure noodlottig gelem.  ~ Foto Verskaf

’N BELOWENDE jong man se lewe is na bewering deur ’n snotneus skoollaitie kortgeknip.

Carl Jacobs (21) is Sondag in die vroeë oggendure in Hawston met ’n mes in die nek gesteek. Sy slagaar is raakgesteek en hy’t hom op die toneel doodgebloei.

Die voorval het in Chelseastraat gebeur nadat hy en ’n 17-jarige klong gestry het.

Volgens Ingrid Jacobs, ’n familielid, het die voorval ’n klipgooi van Carl se ouers se huis af gebeur.

Ingrid sê: “Hy was op pad huis toe, toe hy en die klong in ’n stryery betrokke raak.

“Die klong het hom een skoot in die nek gesteek. Sy slagaar was af. Hy het baie gebloei en is op die toneel dood.

“Wat loop so ’n klong met ’n mes rond? Hy was daarop uit om iemand seer te maak.

“Die klong het voor die messtekery glo met nog twee ander ouens ook gestry.”

Ingrid sê Carl was ’n vredeliewende mens en baie vrolik.

Sy beweer ook dat die klong se ma hom van die toneel af weggevat het. Die cops het egter leidrade opgevolg en die verdagte kort ná die voorval gearresteer.

Hy het die aand in die selle deurgebring en het die volgende dag in die plaaslike landdroshof verskyn.

’n Klag van moord staar die laitie in die gesig. Hy is tans in Boys Town in die Overberg tot sy volgende hofverskyning.

Volgens Mihlali Majikela, ’n polisiewoordvoerder, word die omstandighede rondom die moord nog ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters