10 dae gelede
Tien dae in die donker
MORSDOOD: Die huishoudings is sonder krag gelaat.  ~ Jonathan Lestrade

OM VIR langer as 10 dae sonder krag te sit kan jou kragte tap.

Dit kan veral ’n bitter smaak in jou mond laat wanneer jou krag af is weens die onwettige connections van ander.

Farieda Samodien, van Voorbrug in Delft, en 12 ander gesinne het tot onlangs glad nie ’n lekker tydjie gehad nie. Hulle moes langer as ’n week sonder elektrisiteit klaarkom.

’n Ontevrede Samodien vertel: “As gevolg van die nuwe hokkies wat in die Main Road opgeslaan is en baie meer mense in die gebied, ervaar ons dat daar nou illegal connections is. Dit affekteer ons wat betaal vir krag.”

Samodien sê sowat twee weke gelede het daar ’n brand in die gemeenskap ontstaan toe ’n transformer opgeblaas en almal sonder krag gelaat het.

“Die transformer is in die meantime vervang, maar ons krag was steeds af.”

Oplossing

Samodien sê dit is ook nie die eerste keer dat hulle sonder krag sit nie en dat daar ten minste elke week of tweede week ’n kragonderbreking is.

“Ons het nie ’n probleem met die mense nie omdat mense nie huise het nie. Ek het sommer gou agtergekom dat die mense presies weet wat hulle doen, dan gaan roep ek hulle om my krag aan te sit.

“Maar dit is nie lekker nie. Ons soek ’n permanente oplossing en dit is Eskom se verantwoordelikheid. Ons betaal vir die krag wat ons gebruik,” sê sy.

Galiema Davids sê op haar beurt dis glad nie lekker om sonder krag te sit nie.

“Ek is ’n bejaarde vrou en dit is nie maklik om in die donkerte rond te beweeg nie. Ek bly oor my voete val.

“Dit is ook baie onveilig vir ons, omdat dit baie donker is as hier nie krag is nie. Nou moet ons kerse gebruik en ek is so bang een van ons vergeet die kers en veroorsaak ’n brand.”

Sharna Goodwin, nog ’n moedelose inwoner, sê sy is baie teleurgesteld oor die situasie.

“Ons sit met ’n groot probleem. Hier is sieklikes onder ons wat moet eet.

“Mense kan hulself nie eens was nie. Ek het ’n winkel en as ’n besigheidsmens affekteer die gebrek aan krag my nogal baie.

“My melk en alles het vrot geraak. Dit is nie regverdig nie. Ons verdien beter. Ons betaal tog vir ons krag,” het sy afgesak.

Eskom is genader om kommentaar oor die situasie.

Son word al dae lank kommentaar belowe. ’n Eskom-woordvoerder het beloof dat hulle teen gister sou reageer, maar teen druktyd het daar dadels van gekom.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters