12 dae gelede
‘Terribly Sick Josters’ moan
O, die PYN: Grashon “Malema” Klaasen het gekla oor ’n kopseer.  ~ ASTRID FEBRUARIE

EEN wil slaap, een se maag pyn, nog een soek kopseerpille...

Dís hoe dit vroeër die week in die Kaapse hooggeregshof gegaan het toe 4 van die 20 vermeende lede van die Terrible Josters gekla het dat hulle siek voel.

Die vermeende gangsters staan tereg vir verskeie wandade, maar volgens hul lawyers was hulle nie gister gesond genoeg om in die hof te verskyn nie.

Die kwale het Maandag begin kop uitsteek nadat beskuldigde nr. 9, Mustaqeem “Staggie” Titus, nie in die hof was nie. Sy verteenwoordiger het laat weet Titus voel nie lekker nie.

Waarnemende regter James­ Lekhuleni was glad nie impressed dat die beskuldigde van sy lawyer die hof se boodskapper gemaak het nie. Die regter het gesê dat Titus na die hof gebring word.

Ná ’n kort gesprek met Staggie het Lekhuleni gesê hy is nie oortuig dat die beskuldigde siek is nie. Die saak het toe voortgegaan.

Daar was ook ’n gesprek oor die gesondheid van beskuldigde nr. 2, Raymond “Muis” Arendse.

Arendse was veronderstel om tydens die reses na die Victoria-hospitaal te gaan vir X-strale van sy linkerknie. Dit het egter nie gebeur nie.

Arendse se regsverteenwoordiger het dit al Maandag onder die hof se aandag gebring en weer gister.

Dit is nie duidelik wat presies verkeerd is nie, maar blykbaar het Muis oor sy knie gekla.

Dinsdag het die ander beskuldigdes ook ’n spul kwale bekend gemaak. Dit het eers begin met beskuldigde nr. 17, Nizaam “Pang” Dreyer. Volgens sy regsverteenwoordiger het Pang ’n massiewe kopseer gehad. Hy kon dus glad nie konsentreer nie.

“My kliënt vra of hy kopseertablette kan kry. Ek het aan hom verduidelik dat as hy gedisoriënteerd voel, dan moet hy dit so aandui. Ons sal dan sien of hy af kan gaan (na die selle) om ’n bietjie vrede te vind,” het die regsverteenwoordiger gesê.

Ná ’n kort onderbreking het die regsverteenwoordiger teruggekom en gesê sy kliënt is baie teleurgesteld omdat hy nie medikasie kan kry nie.

Eugene “Vleis” Remedies, beskuldigde nr. 18, het gisteroggend ook nie sy verskyning gemaak toe die hof begin nie.

Verdaag

Volgens sy regsverteenwoordiger makeer Vleis ’n remedy vir maagprobleme, want hy kan glo nie eens reg eet nie.

Toe die regter sê hy moet teenwoordig wees, het sy lawyer gesê sy kliënt “sal aandui as hy verskoon moet word”. Voordat die hof verdaag het, het Remedies gesê sy kop en niere pyn al sedert Maandagaand.

Intussen het Grashon “Malema” Klaasen, beskuldigde nr. 7, se regsverteenwoordiger die hof laat weet dat sy kliënt ook niks lekker voel nie. Hy sukkel glo met ’n migraine.

Malema het aan die hof gesê: “My kop pyn en dit is hoekom ek my kop af gehou het.”

Verder wou beskuldigde nr. 16, Nathan “Nikey” Welcome, by die hof weet of hy kon gaan slaap.

Volgens sy lawyer het Nikey ook niks lekker gevoel nie en sy versoek was om ’n welkome uiltjie in die selle te gaan knip.

Lekhuleni het toe besluit om die hofverrigtinge kort te knip sodat die beskuldigdes mediese behandeling by die hospitaal in Pollsmoor kan kry. Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters