4 dae gelede
‘Terrible’ pyn vir gangster
COP SHOP: Dit is hiér waar Jerome Booysen glo sy gat gesien het. Foto’s: PETER ABRAHAMS  ~ 

’N LID van die Terribles-bende het goed op sy moer gekry toe hy twee pizzas en ’n mes by die Elsiesrivier-polisiestasie wou insmokkel.

Jerome Booysen van Norwood in Elsiesrivier sê hy het nou gebreekte ribbes, ’n seer maag en skaafwonde aan sy gesig nadat die cops hom bygekom het.

Booysen het gister by Son gekla hy’t verlede Woensdag vir sy manskappe twee pizzas en ’n mes probeer insmokkel toe hy gevang is.

Hy beskryf sy kastige werk soos volg: “Jy sien, ek behoort aan ’n organisasie ...”

By navraag na watter een hy verwys, reply hy: “U sien, ek behoort aan die Terribles ...”

Daarna het Booysen se terrible ordeal begin.

Booysen sê hy’t die goed al ingesmokkel toe sy tjommie sy game weggee en die cops se aandag trek.

Booysen sê hy was besig om die polisiestasie se perseel te verlaat toe die cops hom agternasit.

OE EINA! Jerome Booysen sê sy gesig pyn omtrent ná die ordeal.

Hy vertel: “Hulle het ’n skerp lig in my oë laat skyn.

“Daarna het hulle my al in die maag geskop en oor die grond geskuur.

“Die hou teen my kop het my uitgeslat en ek het in die charge office wakker geskrik.

“Toe ek wakker word, toe begin slaan hulle my net weer.”

Booysen se ma, Emily, sê die cops wou haar nie toelaat om haar seun te sien nie.

Elke dag dat sy en haar dogter, Gail, hom wou gaan besoek, is hulle glo die deur gewys.

Gail sê sy het haar broer buite by die selle gaan roep waar hy aan haar gesê het die cops het hom aangerand.

Sy sê dis toe dat hulle agterkom hoekom die cops nie wil hê hulle moet haar broer sien nie.

Gail sê Vrydag toe haar broer in die hof moes verskyn, het die cops hom na die Elsiesrivier-daghospitaal geneem. Booysen beweer die polisie het die dokter daar voorgesê.

“Hulle het aan die dokter gesê hulle het my gedissiplineer en ek is ‘fit to stand trial’.”

Docket

Gail vertel: “Ons het vir die staatsaanklaer gevra waar my broer is.

“Sy het die polisiestasie gebel en hulle het gesê hy is nog nie aangekla nie.

stukkend: Twee van Jerome Booysen se ribbes is glo gebreek weens die slanery.

“Sy het toe vir die polisie gesê dis onmoontlik, want sy docket was reeds by die hof.

“Die Maandag toe ons weer by die hof was, het my broer weer nie verskyn nie. Eers die Maandag nadat die hof klaar was, is my broer vrygelaat sonder dat hy verskyn het.”

Booysen het gister gesê hy maak ’n saak teen die cops.

Moses Dlamini, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod), sê Booysen het nog nie die saak aanhangig gemaak nie.

Dlamini voeg by: “Hy moet die saak aanmeld.

“As hy enige probleem het om die saak aan te meld, moet hy ons kantore direk kontak.”


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters