16 dae gelede
Terrible dade gestraf
DIKDING: Die bendebaas Horatio­ Solomon is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.  ~ Foto Verskaf

DAAR is life op die tronk-brood van die veroordeelde Terrible Josters-bendebaas, Horatio Solomon.

Solomon (31) is Maandag vir lewenslank tronk toe gepos.

Die pa van sewe minder­jarige kids is drie jaar tronkstraf opgelê vir die oortreding van die Prevention of Organised Crime Act (Poca), lewenslank vir die moord op Vernon Botes, nege jaar en agt maande op ’n klag van poging tot moord en nege jaar vir dwelmhandel. Sy strawwe sal gelyklopend uitgedien word.

Solomon en 11 van sy vermeende bendebroers het sedert laas jaar in die Kaapse hooggeregshof op 71 klagte voorgekom. Ses van die 12 beskuldigdes is vrygespreek.

Solomon se regterhand, Ismail Ockerts (30), is ook gister tot lewenslank in die mang gevonnis.

Ockerts is 3 jaar opgelê vir die oortreding van die Poca, lewenslank vir die moord op Botes, 8 jaar en 10 maande vir ’n klag van poging tot moord en 12 jaar vir dwelmhandel. Sy vonnisse sal ook gelyklopend uitgedien word.

Regter Owen Rogers het in sy uitspraak gesê die moord was vooraf beplan en dat dit gepleeg is deur twee of meer persone wat opgetree het met of vir die bevordering van ’n gemeenskaplike doel.

Rogers het ook gesê Solomon en Ockerts het nie berou getoon nie.

“Hulle hou vol hulle is onskuldig. Sover ek weet, ontken hulle steeds hulle was lede van die Terrible Josters.

“Die afwesigheid van berou is nie ’n verswarende faktor nie, al is die teenwoordigheid daarvan, as dit werklik is, ’n versagtende faktor.”

Rogers het gesê rehabilitasie is nie iets wat ’n mens ooit sou wou uitsluit nie, maar die beskuldigdes het nie die hof in hul vertroue geneem nie.

“Die aanvaarding van verantwoordelikheid vir ’n mens se aksies is die eerste stap in die rigting van rehabilitasie. Die beskuldigdes het nog nie daardie stap gedoen nie. Of hulle dit ooit sal doen, is onbekend.”

Beskuldigde nr. 9, Fabian Constable, is effektief 11 jaar gevangenisstraf opgelê.

Constable (28) het 10 jaar gekry vir die poging tot moord op Brendan “Mablou” Dickson, 8 jaar vir die poging tot moord op ’n seun (7), 5 jaar vir die besit van ’n vuurwapen en 3 jaar vir die besit van ammunisie.

Beskuldige nr. 10, Ziyaad Saafodien (28), is altesaam 10 jaar tronkstraf opgelê.

Saafodien is nege jaar gevonnis vir poging tot moord, sewe jaar vir nog ’n poging-tot-moord-klag, ses jaar vir die besit van ’n vuurwapen en drie jaar vir die besit van ammunisie.

Rogers het in sy uitspraak gesê: “Hy (Saafodien) het op ’n groep van drie mense geskiet, hoewel miskien net een van hulle sy bedoelde slagoffer was. Hy het ’n opsetlike roekeloosheid getoon oor die lewe van die ander twee mense in die groep.”

Keenan Kruger (25), beskuldigde nr. 11, is onder meer twee lewenslange vonnisse opgelê.

Sy straf sluit in 3 jaar vir die oortreding van die Poca, lewenslank vir die moord op George Stevens, 3 jaar vir die besit van ’n vuurwapen, 14 jaar vir die besit van ammunisie en lewenslank vir die moord op Victor Browers.

Jongste

Hy is ook 14 jaar opgelê vir die poging tot moord op Shaakirah Undre, 5 jaar vir die besit van ’n vuurwapen en 3 jaar vir die besit van ammunisie.

Sy vonnisse sal gelyk­lopend uitgedien word.

Lucian Consul (24), die jongste in die groep, was 19 jaar en 9 maande oud toe Stevens vermoor is en 20 jaar en 7 maande oud met die moord op Browers.

Rogers het gesê Consul het g’n eerlike verduideliking vir sy optrede gegee nie, so hy (die regter) het geen bewyse gehad dat Consul onvolwasse en onder druk was nie.

Consul is tot 3 jaar tronkstraf gevonnis vir die oortreding van die Poca, 22 jaar vir die moord op Stevens, 5 jaar vir besit van ’n vuurwapen en 3 jaar vir die besit van ammunisie.

Die vonnisse sal gelyk­lopend uitgedien word.

Consul is ook lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Browers, 15 jaar vir die poging tot moord op Undre, 5 jaar vir die besit van ’n vuurwapen en 3 jaar vir die besit van ammunisie.

Rogers het eindelik ook gelas dat ál ses ongeskik verklaar word om ’n vuur­wapen te besit.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters