12 dae gelede
Teken is sy lewe
Man wat kan: Denver besig om die historiese ou tronk in Clanwilliam te teken.Foto: George April  ~ 

CLANWILLIAM. – “Dalk was dit jaloesie, maar alles het begin omdat ek beter wou teken as my vriend.”

Só vertel Denver Mei, ’n 25-jarige potloodkunstenaar van hier.

“Ek was bevriend met my gr. 2-juffrou se seun en hy was baie goed in prentjies teken.

“Sy inspirerende talent het my aangesteek. Ek wou beter wees as hy. “Ek het egter ná gr. 3 opgehou.”

Die gogga het egter weer gebyt toe Mei in gr. 7 was en sy niggie hom gevra het om haar te skets.

“Ek het daarna weer gereeld geteken, hoewel ek dit nie baie ernstig oorweeg het om dit voltyds te doen nie.

“Ná matriek het ek twee jaar in Clanwilliam gewerk voordat ek in 2015 Kaap toe getrek het om werk te soek.

“Ek is hierdie jaar terug in Clanwilliam.

“Ek het nooit gedink my tekeninge sal so baie mense inspireer nie.

Profiele

“Almal wat my tekeninge sien, is gaande daaroor.

“Ek is op my gelukkigste wanneer ek met ’n boek en potlood sit.

“Ek teken graag historiese geboue en profiele van mense. Die meeste van my tekeninge doen ek van foto’s af wat mense aan my stuur om te doen.

“Wanneer ek egter ’n gebou moet teken, moet ek voor die gebou sit.”

Mei vertel sy tekeninge vat soms meer as drie of vier dae om klaar te maak, want die invulwerk vat die meeste tyd.

“Ek wil baie graag my talent ’n loopbaan maak deur my tekeninge te verkoop en mense op aanvraag te teken.

“Mense wat byvoorbeeld sketse soek om hul kantore te versier met ’n pragtige portret, enige skets, ek is beskikbaar daarvoor.”

Mei kan enige tyd by 074 802 9098 gekontak word of op WhatsApp by 081 219 7197.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters