25 dae gelede
Tehillah staan op uit die as
ONS KÁN: Suster Magda Kleyn jubel oor die sukses nadat die sentrum binne drie maande herstel is.  ~ Jonathan Lestrade

ELKE bietjie het gehelp om die Tehillah-sorg­sentrum te herstel.

Net voor die lockdown het ’n brand ’n groot deel van die Tehillah Community Collaborative, ’n tuiste vir pa­siënte in Leonsdale, Elsies­rivier, verwoes.

Maar suster Magda Kleyn, die Tehillah-sentrum se stigter en bestuurder, het onmiddellik ingespring om dit weer ter wille van die inwoners op te bou.

Tipies Kleyn het sy nie toegelaat dat ’n pandemie haar planne en doelwitte pootjie nie.

“Ek weet nie hoe ons dit gedoen het nie, maar in drie maande het ons alles herstel.

“Met die hulp van verskeie besighede en individue het ons dit reggekry,” het ’n baie trotse Kleyn gister gesê.

Kleyn sê dit was moeilik, maar sy is genoodsaak om deur die lockdown te bou om die mense in hul kamers te kon hervestig.

“Ek wou verseker dat hulle in hul kamers kom voordat die peak en die winter ons tref. En dit is wat ons gedoen het,” sê sy.

Almal kon binne drie maande weer by hul kamer intrek.

“En nie een inwoner het tot dusver Covid-19 opgedoen nie.

“Elke bietjie wat mense gedoen het en met ons gedeel het, het bygedra tot die herstel van die gebou.

“Ek is so dankbaar vir die ondersteuning wat ons ontvang het,” sê Kleyn.

KOS VIR ALMAL: Twee werknemers maak lekker toebroodjies in die nuwe kombuis wat ná die brand gebou is. Foto: Jonathan Lestrade

Kleyn voeg by haar hart klop tjoklits van blydskap.

Danksy die Groote Schuur-hospitaal het hulle ook beddens ontvang.

“Die skade was meer as R1 miljoen. Dis nie asof ek soveel geld kon kry nie.

“Maar as gevolg van almal se bydraes kon ons opmaak vir wat ons verloor het,” vertel sy.

SPOGGERIG: Die nuwe kamers lyke alte mooi met nuwe gordyne en beddens wat aan die sentrum geskenk is. Foto: Jonathan Lestrade

Die opgeknapte gedeelte van die sentrum kan 33 mense huisves. Daar is altesaam sowat 100 mense wat op die perseel woon.

Opening

Met hul nuwe kombuis, eetkamer en sitkamer is daar genoeg ruimte vir almal, selfs met die regulasies vir distansiëring.

“Daar is nog net ’n paar klein goedjies wat ons moet klaarmaak, maar sover geniet almal hul nuwe kamers.

“Ons gaan voort en sien uit na ons grand opening,” sê Kleyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters