21 dae gelede
Te vroeg vir vrae en vrese oor tronkvoëls - DKD
Die departement van korrektiewe dienste meen dis nog te vroeg om te worry oor die vrylating van gevangenes.  ~ Foto ter illustrasie: Jonathan Lestrade

“DIS ’n f****n disaster”

“Hoe de hel laat jy bandiete vry as hulle nie eers voorbereid is oor die lewe buite die tronk nie? Behalwe dit het nie een paroolraad nog gesit sedert die lockdown nie. Hoe wil die departement van korrektiewe 19 000 gevangenes van regoor Suid-Afrika vrylaat as die goed nie in plek is nie?”

Dit is van die vrae wat bewaarders van die Wes-Kaap het na Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, Vrydag die aankondiging gemaak het.  

Lamola se aankondiging kom ná pres. Cyril Ramaphosa se goedkeuring om duisende lae-risiko gevangenes parool te gee om so die verspreiding van Covid-19 binne tronke te stop. Son het reeds berig oor Ramaphosa se besluit om Suid-Afrika se tronkbevolking van 155 000 gevangenes met 19 000 te verlig.

Die gevangenes wat kwalifiseer is dié wat binne die volgende vyf jaar hul minimum straf sou uitdien. 

Bandiete wat lewenslange tronkstraf opgelê is of straf uitdien vir seksuele oortredings, moord, poging tot moord, kindermishandeling of geslagsgeweld is nie deel van die 19 000 nie.

Lamola het Vrydag in ’n verklaring gesê die vrylatingproses gaan oor die volgende 10 weke begin sodra die prosesse van die paroolraad gefinaliseer is en alle relevante rehabilitasie- en voorvrylatingsprogramme bygewoon is. 

Bekommerde bewaarders sê hulle was geskok om dit in die nuus te lees. “Na watter paroolrade verwys hulle want niemand sit nou al vir maande nie. Die bestuur se werk is al vir maande agter. Van die gevangenes (sowat 3 000) het al laas jaar amnestie verkry en moes al vrygelaat gewees het. Dit kan nie gebeur nie want daar is geen paroolsittings nie en die klasse wat inmates kry voor hulle weer in die samelewing gaan kan ook nie plaasvind nie. Nou hoe wil hulle dit doen?,” het ’n bewaarder gevra.

Singabakho Nxumalo, nasionale woordvoerder vir korrektiewe dienste, het by navraag gelag vir kwelpunte van die bewaarders en sê dit is te vroeg om sulke vrae te vra. 

Hy het Son na Lamola se oorspronklike verklaring verwys wat lui: “Sodra alle paroolraadprosesse afgehandel is en alle toepaslike rehabilitasie- en voorvrylatings programme bygewoon word, sal vrylating van die gevangenis wat kwalifiseer begin.”

Hy sê slagoffers sal die geleentheid kry om vertoë te rig tydens die paroorweging proses. Die departement het sover 321 bevestigde gevalle van Covid-19 gehad. Altesaam 190 hiervan is inmates. Net agt van hulle is in die Wes-Kaapse tronke aangemeld. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters