14 dae gelede
Tazne se maatjie ook amper ontvoer
DANKIE, HERE: Die mamma sê sy is net dankbaar dat sy haar dogter weer kan vashou.  ~ Jonathan Lestrade

TAZNE se vriendin het byna dieselfde ervaring deurgemaak toe sy Dinsdag ook amper ontvoer is.

Die meisie (9) wat net om die draai van Tazne woon en by dieselfde skool is, het nog buite gespeel toe twee onbekende vroue haar gegryp en begin hardloop het.

Die meisie se mammie (33) vertel dat sy die hele ding gesien het en agter die twee vroue aangehardloop terwyl hulle haar dogter aan die arms vasgehou het.

“Ek het geskreeu en geskreeu. Ek het haar naam uitgeroep en gevra hoekom hulle dit doen, maar hulle het nie gestop nie.”

Die getraumatiseerde mamma sê sy was nog in die jaart terwyl haar meisie saam met haar vriende en broertjie buite gespeel het.

“Ek het gehoor hoe my seun skreeu die mense het daai ou wat Tazne gevat het, gevang.

“Dis toe ek na buite hardloop wat ek sien hoe hardloop die twee vroue met my kind.

“Ek het hulle nie herken nie. Ek het nie opgehou skreeu en hardloop nie. Toe sien iemand anders haar en skreeu: ‘Dis mos antie se kind!’ ”

Verdwyn

Die mammie sê dis toe dat die vroue haar dogter se arms los en weghardloop.

“Toe ek by haar kom, het sy net gehuil. Die vroue het aangehardloop en tussen die skare verdwyn waar die mense vir daai ou gesoek het.”

Volgens die ma het haar hart amper gaan staan.

“Ek het net gedink: Wat as ons nou ook vir haar moet soek? Wat as ek nie uitgekom het nie? Wat as haar broertjie nie geskreeu het nie?

“En net nou die dag sê sy aan my sy wil nie wegraak soos Tazne nie, daarom kan sy nie meer buite speel nie.”

Toe Son die meisie vra wat die vroue aan haar gesê het, het sy gesê sy onthou nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters