4 dae gelede
Taxiroete bly gesluit
Die B97-roete bly gesluit weens voortslepende taxigeweld.  ~ Lulekwa Mbadamane

DIE B97-taxiroete tussen Bellville en Mbekweni in die Paarl gaan weens taxigeweld vir 'n verdere drie maande gesluit wees.

Dié besluit is geneem nadat pogings misluk het om geweld tussen die taxiverenigings Cata en Codeta stop te sit. 

Daylin Mitchell, LUR van vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap, sê in 'n verklaring ondanks pogings om die bloedige twis met mediasie en vredeskonferensies te eindig, het geweld voortgeduur en is meer mense dood. Die geweld het ook na ander areas uitgebrei.

Altesaam 19 taxiverwante moorde en 9 poging tot moorde is tussen September en Oktober aangemeld.

Mitchell het ook sy misnoeë uitgespreek oor die feit dat daar in Oktober tydens gewelddadige protesoptogte op wetstoepassers geskiet is. Betogers het daarop aangedring dat die roete heropen word.

"Hoewel ons die feit aanvaar dat pendelaars meer moet betaal om by die werk uit te kom en dat die voortbestaan van taxibestuurders deur die sluiting van die roete geraak word, moet die behoud van menslike lewens die belangrikste oorweging is," sê Mitchell.

Bykomende Golden Arrow-busse sal op die roete ry en gesprekke oor 'n vermindering in busfooie word ook intussen gehou.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters