Verlede jaar
Taximan sterf
Moegamat Gassiep DarriesFoto: FACEBOOK  ~ 

’N GELIEFDE taxi driver van Retreat is Maandagaand dood kort nadat hy gegun­point is.

Moegamat Gassiep Darries (61) is in die Retreat-daghospitaal aan ’n hartaanval dood.

Dit het gekom nadat drie gewapende mans hom in sy taxi met ’n vuurwapen gedreig het.

Volgens Sulaiman Brenner, bestuurder van die Retreat taxi rank, het die voorval om en by 18:45 by Montagu Village in Lavender Hill gebeur.

Brenner sê: “Darries het die laaste drie mense in Montagu Village afgelaai toe drie gewapende mans in die taxi spring.

“Die drie het dadelik ’n gun op die taxibestuurder gerig.

“Dit is nog onduidelik of hulle hom beroof het. Die mans het uitgespring toe hy by die winkel gestop het.

“Hy het daarna tot by die taxi rank gery.

“Van die taxi drivers het my kom roep en gesê Darries is besig om siek te raak in sy taxi.

“Toe ek daar kom, het hy slap agter die stuurwiel gelê. Ek het hom gevra of hy oukei is.

“Hy het gesê drie mans het hom met ’n gun in sy taxi gedreig.

“Ons het die ambulans gebel, maar hulle het te lank gemaak.

“Ek het met hom na die daghospitaal gejaag, want ek kon sien iets ernstig is fout.

“By die hospitaal het hulle hom na die noodeenheid geneem.

“ ’n Halfuur later het die dokters kom sê hy is aan ’n massiewe hartaanval dood.

“Dit is baie hartseer. Hy was besig om sy brood te verdien om vir sy familie te sorg.

“Dit is nie maklik om ’n taxibestuurder te wees nie.

“Jy weet nie of jy weer veilig gaan terugkeer na jou huis nie.”

Volgens Brenner maak hulle seker taxi­bestuurders is nie bendelede nie voordat hulle aangestel word.

Brenner gee toe daar is gevalle waar taxibestuurders aangeval of beroof word, maar dit gebeur baie min met hul bestuurders.

Volgens Brenner is dit ’n tragiese gebeurtenis en ’n geïsoleerde voorval.

Darries het die afgelope nege jaar by die Retreat taxi rank gewerk. Hy het voorheen ook taxi’s in Mitchells Plain en Ocean View gery.

Die taxibestuurders het hom beskryf as ’n vriende­like mens wat baie vir die passasiers omgegee het.

Hy is gister volgens die Moslem-geloof in Athlone begrawe.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters