2 maande gelede
Taxi-vigilante geskiet
Shots left! Polisievoertuie staan Darwinweg, Kraaifontein, vol ná die skietvoorval tussen die cops en taxi-drywers waartydens ’n taxi-bestuurder doodgeskiet is.Fotoverskaf  ~ 

KRAAIFONTEIN was dié week soos die Wilde Weste soos hier geskiet is.

Dié keer was dit taxi-bestuurders en cops wat Dinsdag in Buh-Rein Estate op mekaar losgebrand het. Een van die taxi-manne is dood en nog een gewond. Twee omstanders is ook getref.

Dit het alles begin toe ’n vrou gil sy word beroof. Die taxidrywers het die vermeende rowers toe vasgevat. Hulle was net besig om die jong wannabe-rowertjies ’n bietjie sag te maak toe die cops op die toneel verskyn.

Maar toe die cops en ouens van wetstoepassing die jongens uit die taxi-manne se hande wou red, het die skietery uitgebreek.

Tussendeur het iemand ook ’n video geskiet. Dié lê reeds die sosiale media vol.

Wayne Dyason, woordvoerder van wetstoepassing van die Stad Kaapstad, bevestig die beamptes het ’n groep jong manne aangetref wat goed gemoer word.

Hy sê toe gemeenskapslede die aanranding probeer stop, het taxi-drywers glo op hulle geskiet en twee onskuldige omstanders gewond.

“Wetstoepassingsbeamptes het teruggeskiet.

“Die verdagtes het toe in ’n minibus gevlug.”

Dyason sê die skietery het aangegaan in die jaagtog wat gevolg het.

Dis tóé dat die twee verdagtes raak geskiet is.

Een van hulle is later in die hospitaal dood, sê hy verder.

Dyason voeg by: “Die SAPD ondersoek die voorval en die Stad werk ten volle saam.”

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, bevestig die voorval en sê geen niemand is nog gearresteer nie.

Volg Anele Mfazwe op Twitter.

Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters