7 dae gelede
Taxi tref trok: Ou ‘spring uit’
ONGELUKSTONEEL: Sewe mense is in die tragedie dood en sewe is beseer.  ~ Murphy Roberts

MELKBOSSTRAND. – Die jump van ’n rooi verkeerslig het vermoedelik daartoe gelei dat sewe mense hul lewe in ’n gru-ongeluk verloor het.

Nou sal ’n taxi-drywer hof moet loop oor die gebeure waarin sewe mense ook ernstig beseer is.

Die ongeluk het gister omstreeks 09:00 op die hoek van die R27-Weskuspad en Birkenhead-weg gebeur toe ’n taxi teen ’n lorrie gebots het.

Die taxi het werkers vanaf Du Noon na Melkbosstrand vervoer.

Volgens omstanders was die swaar lorrie in die rigting van Atlantis onderweg. Die taxi, wat veronderstel was om by die rooi verkeerslig te stop, was aan ’t afdraai na die nabygeleë gholfbaan.

Omstanders vertel die taxi-drywer het uit die voertuig gespring toe hy sien die ongeluk is onvermydelik.

Die betrokke taxi-drywer het met pieringgroot oë op die toneel gestaan en wou hom nie uitlaat oor die be­werings nie.

Die lorrie het die taxi byna 30 m ver saamgesleep en albei voertuie het in ’n stuk veld beland met die vragmotor wat byna bo-op die taxi beland het.

By Son se besoek aan die toneel het daar lyke en beseerdes wyd verspreid gelê, terwyl baie ook in die wrak vasgekeer was.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die lorriebestuurder aan sy besering beswyk.

Ondersoek

Van Wyk sê ses passasiers in die taxi het ook op die toneel gesterf.

Volgens hom is sewe ernstig beseerde passasiers per helikopter en met ambulanse na hospitale vervoer.

Dis nog onbekend hoeveel klagte ondersoek word, maar Van Wyk het wel bevestig een van dié aanklagte sal strafbare manslag wees.

Dit is die tweede ernstige ongeluk in minder as ’n jaar waarby taxi’s van Du Noon betrokke is wat na Melkbosstrand onderweg is.

Agt mense het in Oktober verlede jaar hul lewe verloor toe ’n taxi driver van Du Noon op pad na Melkbosstrand beheer verloor en in ’n aankomende voertuig vasgeploeg het.

Die oorlaaide taxi met 20 passasiers het ook werkers na Melkbosstrand vervoer toe die ongeluk gebeur het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters