16 dae gelede
Taxi-ongeluk eis drie
SCENE: Die polisie en nooddienste verleen hulp op die toneel.  ~ Foto Verskaf

DRIE mans is in ’n ongeluk dood toe ’n taxi-drywer beheer oor die voertuig verloor het.

Die ongeluk het Maandag omstreeks 17:40 op die R321 tussen Grabouw en Villiersdorp naby Nuweberg gebeur.

Altesaam 14 mense is in die ongeluk beseer.

Twee passasiers is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem.

Die passasiers is almal van Grabouw, het ’n inwoner aan Son gesê.

Onbekend

Volgens ’n polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, was die Grabouw-polisie op die toneel.

Van Wyk sê: “By hul aankoms is ’n Quantum-taxi op die toneel aangetref.

“Dis nog onbekend of ’n ander voertuig betrokke was.

“Drie onbekende mans is dood en twee onbekende mense is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem.

“ ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek. Dis nog onbekend hoe die ongeluk gebeur het. Die ondersoek duur voort.”

Jandré Bakker, woordvoerder van die departement van vervoer en openbare werke, het die ongeluk bevestig. Hy sê die polisie ondersoek die voorval.

Inligting

Van Wyk het versoek dat enige een met inligting oor die ongeluk die Grabouw-polisiestasie by 021 859 7726 of die polisie se Stop Misdaad-lyn by 08600 10111 sal bel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters