13 dae gelede
Talle twyfel oor besluit

DAAR is omtrent mixed gevoelens tussen ouers oor die voltydse terugkeer van leerders na skole.

In Atlantis is die Hoërskool Atlantis vir die naweek toegemaak omdat twee leerders positief vir die corona-virus getoets is, maar teen Maandag was die skool weer oop.

André de Bruyn, die provinsiale hoof van die Educators Union of South Africa (Eusa), sê dis gevalle soos dié wat hulle bekommerd maak oor die nuwe stel riglyne wat die minister van basiese onderwys aangekondig het. De Bruyn sê dis hoekom hul unie ’n beroep gedoen het om alle skole vir ten minste twee weke toe te maak sodat onderwysers vir die jab kan gaan.

“Ons sien hoeveel gevalle daar by skole in die Noord-Kaap bevestig is. Een of ander tyd gaan dit hier gebeur.

“Ons het almal die cycle deur die eerste twee golwe leer ken.”

Hy meen die nuwe riglyne maak nie sin nie.

Veg

“Minister Debbie Schäfer (Wes-Kaapse LUR vir onderwys) het genoem dat kinders minder vatbaar is vir die virus en minder geneig is om dit oor te dra, maar experts sê dat meer as 400 sterfgevalle kinders is.

“So, ek dink nie sy weet waarvan sy praat nie.”

De Bruyn sê hul unie veg ook teen die volle kapasiteit-riglyn.

“Ons skole was al voor die virus oorlaai. Nou, met die roterende roosters, kan ons ten minste sosiale distansiëring toepas.

“Die kinders is ook al gewoond aan die stelsel en ons onderwysers voel gemaklik en veilig. Hoe maak dit sin om dinge wéér te ontwrig?”

Hy voeg by die unie meen indien onderwysers nie onmiddellik toegang tot entstowwe kry nie, moet skole sluit.

“Ons vra dat ander unies ons steun in die geveg om onderwysers ingeënt te kry.”

Maralize Claasen (40), ’n ouer van die Hoërskool Atlantis, deel dieselfde gevoel as De Bruyn en sê sy is baie bekommerd oor haar dogter se veiligheid.

“Ek voel dis definitief ’n health risk.

“Hoe groter die klas, hoe groter die risiko om Covid op te tel.”

Claasen sê sy is totaal teen die departement se besluit gekant en noem dat kids al klaar cope met die nuwe rotasiestelsel.

“Ons kinders se gesondheid is die belangrikste. Daar is goed in plek wat werk. Hoekom gaan hulle nie net aan daarmee nie?

“Ons kinders het goeie punte gekry en spandeer ook tyd met hul boeke wanneer hulle af is. So, hulle verloor nie werk nie.”

Claasen se dogter, Vanuza Fernandes (17), voel weer anders en sê sy is oukei met die besluit, solank die ander leerders by die protokolle hou.

Portia Balie (37), nog ’n ouer by die hoërskool, bevestig aan Son dat daar wel ’n positiewe geval was, maar sy voeg by dat die skool die maatreëls gevolg het.

“Die enigste probleem is dat die kinders nie sal sê dat hulle positief vir die virus getoets is nie, want hulle is embarrassed.

Toegemaak

“Maar ek stem saam met die minister – laat die kinders voltyds terug skool toe kom, want hul skoolloopbaan is belangrik. Hulle moet net by die Covid regulations hou.”

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, bevestig die twee gevalle by die hoërskool en sê die skool is tydelik toegemaak vir ontsmetting.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters