9 dae gelede
Talle optogte gehou om Vearey terug te kry
LOS UIT: Mense het gister gemarch uit protes teen Jeremy Vearey se afdanking.  ~ Peter Abrahams

’N REEKS optogte is gister by verskeie polisiestasies gehou dat genl.maj. Jeremy Vearey sy werk as Wes-Kaapse adjunk­polisiekommissaris moet terugkry.

Nadat Vearey sowat ’n week gelede sy werk verloor het, het talle ondersteuners stem dik gemaak. Selfs leerders het gister die optog op die stoepe van die parlement bygewoon.

Vearey is sy werk kwyt oor ’n string Faceboek-inskrywings wat hy gemaak het en volgens die polisie hul naam in oneer gebring het.

Michael Jacobs, voormalige voorsitter van die Mitchells Plain-gemeenskapspolisiëringsforum, het aan Son gesê hy ondersteun Vearey omdat hulle ’n baie lang pad saam stap. Jacobs sê: “Ek en Jeremy het nou saam gewerk om bendes uit te roei sowel as op sake van domestic violence.

“Die rede hoekom hy geteiken word, is omdat hy bruin is. Dis die korrupte elemente in die polisie wat magsbehep is wat agter alles sit.

Vuurwapens

“Hulle wil bekwame polisiebeamptes uit die weg hê. Jeremy het gewerk aan sake waar daar met vuurwapens gesmokkel was én organised crime.

“Ons sien baie bendebase wat by dié skandaal betrokke is, sowel as polisielede.

“Ons moet standpunt inneem en gaan nie rus totdat die attack stopgesit word teen ons coloured polisielede nie.”

Faeez Jacobs, LP en aktivis, sê wat nou hier aangaan is baie verkeerd.

Volgens Jacobs beveg Vearey bendes en selfs polisielede wat betrokke is by verkeerde goed.

Hanif Loonat, voorsitter van die Wes-Kaapse gemeenskapspolisiëringsforum, sê dis die gemeenskap wat gestraf word noudat Vearey nie meer in diens is nie. Volgens Loonat het dit alles te doen met politiek.

Hy sê: “Dit is nie goed vir ons nie. Die gangsters sien dit en hulle hou daarvan.

“Dis hoe hulle beheer vat. Ons speel reg in hul hande. Ons moet wakker skrik!”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters