15 dae gelede
Talle mor oor hoë se kop rol
OPSTAND: Talle is nie gelukkig met Jeremy Vearey se afdanking nie.  ~ Jonathan Lestrade

VERSKEIE organisasies wat agter die Wes-Kaapsie speurhoof, genl.maj. Jeremy Vearey, staan, meen dat hy weens die verkeerde redes sy werk kwyt is.

Vearey se kop het gerol oor ’n string Facebook-inskrywings wat hy gemaak het.

In die inskrywings wat tussen Desember laas jaar en Februarie 2021 gemaak is, het dié top cop op sy persoonlike Facebook-profiel uitlatings gemaak wat die Suid-Afrikaanse polisiediens aanvoer die mag in gedrang gebring het.

Genl. Liziwe Ntshinga, die Oos-Kaapse polisiekommissaris, het die dissiplinêre-verhoor gelei en Vearey skuldig bevind aan wangedrag. Sy het aanbeveel dat hy afgedank moet word.

Vearey het egter onskuldig op dié klagte gepleit en aanbeveel dat hy slegs ’n geskrewe waarskuwing moet kry.

Luidens die klagstaat het hy op 7 Desember 2020 ’n foto van die nasionale polisiekommissaris, genl. Khe­hla Sitole opgelaai met die woorde: “Good morning and how is the mind today?”

Dís met verwysing na ’n artikel van die voormalighe intelligensiehoof Peter Jacobs en Sitole wat toe in die Daily Maverick verskyn het.

Op 12 Desember 2020 het Vearey­ weer ’n foto van Jacobs opgelaai met “Once more unto the bridge” en “Dit is nie genoeg om jou vyand te haat nie. Jy moet verstaan hoe die twee van julle mekaar aanvul.”

Hierdie frase kom uit die boek Underworld, wat deur Don DeLillo in 1997 geskryf is.

Dié uitlating wat gemaak is, hou verband met ’n dissiplinêre verhoor teen Jacobs.

Op 25 Februarie vanjaar het Vearey op ’n storie van News24 kommentaar gelewer oor ’n storie waarby Jacobs betrokke was.

In hierdie kommentaar sê hy: “Moer hulle! F*k hulle op!”

’n Veldtog genaamd “Hands off our general Jeremy Vearey, Peter Jacobs and André Lincoln” het intussen op Facebook begin om dié drie top cops te ondersteun.

Hanif Loonat, die provinsiale voorsitter van die Wes-Kaapse gemeenskapspolisiëringsforum, sê dat daar nie toegelaat kan word dat Vearey deur politieke partye uit sy pos verwyder word nie.

Moraal

Loonat sê: “Dit vernietig die werklike fundamentele etos om ons mense met waardigheid te dien.

“Dit veroorsaak ook dat ons mense wat ’n Wes-Kaap sonder enige misdaad wil sien, se plan sak. Ons moet konstant wees wanneer ons klagte van wangedrag toepas. Laat ons ook met die top-ouens deal wat by korrupsie­ betrokke is.

“Ons moraal as die polisiëringsgesag is besig om agteruit te gaan. Ons speel reg in die hande van misdadigers.”

Selfs die ANC het ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa en die polisieminister, Bheki Cele, gedoen om aksie te neem oor Vearey se afdanking. Luidens ’n verklaring wat deur die party uitgereik is, is hulle geskok dat Sitole een van die beste misdaad-vegters sou afdank. Die ANC beskryf Vearey as ’n getroue en beproefde lid.

Die verklaring lees verder: “Ons is kwaad oor genl. Vearey­ se afdanking!

“Hy het tydens ons struggle getrou geveg en het ’n polisiebeampte geword wat deur baie gehaat is.

“Dit blyk dat sy afdanking deel van ’n patroon vorm om ontslae te raak van die mense se soldate wat by die Suid-Afrikaanse polisiediens aangesluit het.”

Volgens die party is daar ’n duidelike krisis in die polisie wat Ramaphosa en Cele moet aanspreek.

“Hierdie besluit moet omgekeer word!”

Vearey het nie op Son se navrae gereageer nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters