2 maande gelede
Sy weet nog nie engele is dood

DIE Smit-familie van Wellington sal vandag en môre alleen moet afskeid neem van hul drie kindertjies wat in ’n tragiese ongeluk gesterf het.

Sarie de Villiers, die oumagrootjie van klein Cayleb (7), Gradwill (4) en Joshua Smit (1), wat Saterdag tragies verongeluk het, sal nie hul gedenkdiens of begrafnis kan bywoon nie.

De Villiers, wat niks van die ongeluk kan onthou nie, sterk nog in die Paarl-hospitaal aan en wis niks dat haar drie engeltjies dood is nie.

’n Gedenkdiens word vandag by die Primêre Skool Wellington gehou en môre ná hul begrafnis sal ’n kranslegging gehou word op die plek waar die drie boeties hul laaste asem uitgeblaas het.

Cayleb, Gradwill en Joshua sal Saterdag vanuit hul oumagrootjie De Villiers en oupagrootjie se huis in Wellington ter ruste gelê word.

De Villiers was agter die stuur toe hul motor met haar en die kinders 80 m in die Bainskloof-pas afgeval het.

Volgens Carl gaan dit baie moeilik vir sy ma wees wanneer sy uitvind haar geliefde agterkleinkinders is dood en sy het boonop hul begrafnis gemis.

Hy sê die drietjies was sy ma se hele lewe.

’n Hartseer Carl vertel: “Ek weet regtig nie. Sy gaan devastated wees.

“Die kinders was my en my ma se hele lewe. Sy gaan dit verskriklik swaar vat.

“Dit is iets wat sielkundiges eendag vir haar moet verduidelik met ons as familie by haar en om vir haar te ondersteun tot die einde toe.

“My ma is ’n wonderlike vrou wat 03:00 in die nag sou opstaan om vir kinders iets te neem.

“Almal in die Paarl en Wellington ken my ma as ouma Sarie.

“Sy het verskriklik baie vir die kinders van Wellington en Paarl gedoen.

“Sy sal kinders sommer na ons huis toe bring en vir hulle kos gee, klere koop en vir hulle by ’n jeuggroep by haar kerk inskryf.

Reëlings

“Ja, met ’n swaar hart weet ek dit gaan ontsettend moeilik wees om vir haar te sê van haar kleinkinders.

“Ek weet nie hoe nie en wil nie nou daaraan dink nie. Net tyd sal genees.”

Carl sê met die laaste reëlings waarmee hulle tans besig is, tref die seer hulle baie hard.

Die oupa wat nou nog moet rondspring om alles in orde te kry, sê sy hart breek om te dink dis die laaste keer dat hy iets vir sy kleinkinders kan doen.

Carl treur: “Dit raak al hoe nader en ons is baie besig met die reëlings.

“Die seer is nog baie erger vir ons vanoggend, want my seun het sy kinders by die begrafnisondernemer gaan kyk.

“Ons het hul laaste kleertjies vir hulle geneem sodat hulle kan mooi lyk.

“Om te dink dis die laaste keer dat ek vir my kleinkinders iets kon neem.

“Dis baie erg.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters