25 dae gelede
Sy weergawe ry wipplank
GETUIE: ’n Staats­getuie het homself in die voet geskiet met sy klomp weergawes.  ~ Gallo iStock

’N STAATSGETUIE wou weet waar sy prokureur is voordat hy ingesweer word.

Dít was nadat hy verskillende weergawes gegee het toe hy verlede week in die hof ondervra is.

Die getuie was onder die indruk dat daar nog ’n binneverhoor sou plaasvind nadat hy aan die hof gesê het hy het nie verklarings aan die polisie gegee nie.

Die binneverhoor sou die staat ’n kans gegee het om die verklarings se egtheid te bevestig.

Die man getuig in die Kaapse hooggeregshof teen 12 vermeende lede van die Terrible Jos­ter-bende.

Eers het hy aangevoer hy weet nie wie in 2016 by hulle huis op hom en sy ma geskiet het nie.

Ure later het hy sy tune gechange en die vinger gewys na beskuldigde nr. 10.

Hy het beskuldigde 2 geïnkrimineer as die driver in ’n ander voorval waar­in daar op hom en sy vriende geskiet is.

Woensdag het hy ook in dié geval sy tune verander. Hy het beweer dat hy met dié twee skietvoorvalle glad nie eens op die toneel was nie.

Die volgende dag het hy getuig hy is geforseer om te getuig.

Hy het beweer hy het nie die verklarings afgelê wat in die staat se besit is nie.

Hy het aan die hof gesê die handtekeninge in die verklarings is nie syne nie.

In kruisondervraging is dit aan hom gestel dat hy – volgens sy getuienis verlede week – met albei skietvoorvalle nie teenwoordig was nie en ná die tyd daar opgedaag het.

Die getuie het met dié stelling saamgestem.

Dit is verder aan hom gestel dat beskuldige 2 tydens die skietery op die getuie en sy ma by ’n partytjie was en ten tyde van die tweede skietvoorval by die winkel besig was om sigarette, chips en hoender te koop.

Verder is dit aan hom gestel dat hy nie die stelling dispute nie oor hy nie op een van die tonele was nie.

Hy het saamgestem. Hy is kort ná kruis­onder­vra­ging vrygelaat as ’n getuie.

Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters