Verlede maand
Sy veg voort
Wagtend: Die blyplek van die inwoners van die sorgsentrum word nog herbou. Foto’s: Jonathan Lestrade  ~ 

DAAR’S nog goeie mense met mooi harte in die wêreld.

Dís wat suster Magda Kleyn van die Tehillah-rehabilitasie-en-sorgsentrum ondervind het toe talle weldoeners landwyd hulle hart en beursie oopgemaak het.

Kleyn se groot hart loop oor van blydskap oor hoe jonk en oud ingespring het om haar te help om die gedeelte van die sentrum te herbou wat laas week in ’n brand verwoes is.

Dakloos

“Toe sien jy weer die goedheid van die mens. Ek is rêrig dankbaar vir elke bydrae.”

Son het verlede week berig dat 110 siek mense dakloos gelaat is toe ’n gedeelte van die tehuis se sorgsentrum afgebrand het.

Die mense, almal te jonk vir ’n tehuis vir bejaardes en te siek om onder ’n brug te slaap, slaap nou saans in die sentrum se crèche.

Bedags lê hulle in die coffee shop.

“Hulle almal dra nappies. Dis siek mense dié. Hulle moet almal elke dag medikasie kry. Gelukkig was die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement gou op hulle pos ná die brand. Medikasie wat in die brand vernietig is, kon toe vervang word.”

Maar Kleyn se bors word warm as sy van haar landlord, die departement van openbare werke, praat.

“Hulle bly mense stuur om foto’s te kom neem, maar niks kom van hulle kant nie. Ons watertoevoer is eers Woensdag herstel ná ’n week se wag. Ek moes privaat mense vra om te kom kyk wat skort.”

Sy sê sy wag op die departement om die gebrande asbes weg te neem en die plek skoon te maak. Sy sê as die departement nie sy kant bring nie, wil sy “die siek mense met kimbies en al by hulle kantore gaan aflaai. Dan sal hulle sien ons werk met mense en mense se lewens is at stake.”

Stryd

Maar Kleyn sê ongeag dié faktor slaag sy en haar mense steeds daarin om die plek weer op die been te bring.

“Ons het die eerste keer die beer doodgemaak en kan dit weer doen. Die werk het nie stilgestaan nie. Die stryd gaan aan.”

Openbare werke het Donderdag gesê hulle moet nog met die betrokke afdelings kommunikeer om te hoor waar die oponthoud is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters