5 dae gelede
Sy sê sus, dan so
VERWARRING: ’n Staatsgetuie se oggend- en aandpraatjies oor ’n skietery begin nou clash in die gangster-hofsaak.  ~ Gallo iStock

“JÔ, EK ken die persoon.”

So het ’n getuie wie se identiteit beskerm word, gister in die Kaapse hoog­geregshof in die Terrible Joster-saak getuig.

Die getuie se weergawe is dat sy ’n persoon gesien het wat op haar en haar seun geskiet het.

Die getuie, ’n ma van vier wat al drie van haar seuns in skietvoorvalle verloor het, het Ziyaad “Ysters” Saafodien uitgeken as die skieter. Sy sê hy het ’n rooi hoodie gedra.

Ondervra

Saafodien is een van 12 vermeende Terrible Jos­ter-bendelede wat in die Kaapse hooggeregshof op 71 klagte teregstaan.

Die getuie is ondervra oor ’n voorval in 2016 toe daar op haar huis geskiet is.

Sy het vroeër getuig daar is op hulle geskiet weens bewerings dat haar seun ’n lid van die Dixies is.

Sy het ook gesê daar is al by verskeie geleenthede op haar huis geskiet.

Dit is aan die getuie in kruisondervraging gestel dat sy Dinsdag in die hof getuig het sy het Saafodien in die voorval in 2016 herken waar sy hom gesien stap het terwyl hy ’n vuurwapen uitgehaal het.

“Toe hy opkyk, toe sien ek dis Ysters. Ek het nie ’n mistake gemaak nie,” het sy getuig.

Dit is toe aan haar gestel sy’t Dinsdag aan die hof gesê sy het die skieter al op die hoek van Syblomstraat gesien en hom reeds daar herken.

“Ek het nie so gesê nie,” getuig sy toe.

Volgens die getuie was dit in ’n ander straat – die straat waarin sy woon.

Die getuie gee toe weer ’n ander weergawe: “Voordat hy die vuurwapen uitgehaal het, het ek hom gesien.”

“Ek het gesê dat hy gestap het tot by die klein hekkie.

“Toe haal hy die vuurwapen uit, maar ek het hom gesien voordat hy die vuurwapen uitgehaal het,” het sy getuig.

Die getuie het ook gesê sy’t twee skote gehoor.

Volgens haar het sy gesien hoe die beskuldigde op haar huis skiet terwyl sy deur die venster gekyk het.

Dit is aan die getuie gestel dat selfs haar verklaring aan die polisie van haar getuienis verskil.

Toe sy haar verklaring afgelê het, het sy glo aan die polisiebeampte gesê sy het eers die skieter gesien nadat drie skote afgegaan het.

Sy het verder getuig haar bure het haar vertel die polisie het Saafo­dien gevang.

Dit is aan haar gestel sy is die een wat Saafodien as die skieter uitgewys het juis omdat die bure so gesê het.

Sy antwoord toe: “Dit het op 13 April 2016 om 10:30 gebeur. Ek lieg nie. Dit was hy.”

Sy’t ook getuig haar seun het nog vir die vermeende skieter ’n sigaret gegee terwyl hy in die polisie-vên gesit het.

Die saak gaan Maandag weer voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters