4 maande gelede
Sy kla oor 7 klappe; cops sê seun meng in
OPROERIG: Die gemeenskap van Strand was ontsteld toe die polisie na bewering ’n 15-jarige kind veelvuldig geklap het.  ~ Foto Verskaf

’N VROU van die Strand is die hel in vir die polisie, wat na bewering haar tienerseun ten aanskoue van die gemeenskap aangerand en boonop ’n saak teen die klong gemaak het.

Die “sonde” wat die pak slae uitgelok het, was glo dat die kind ’n video van die polisie gemaak het.

Firdous Julies vertel sy is verlede Dinsdag by die werk kom roep.

“Toe ek daar kom, was dit ’n hele commotion. Die gemeenskap wou die polisie aanrand. My kind het daar gesit.”

Julies se seun, Moegamat Junaid (15), sê hy was by die barber shop in Hassan Khan-laan toe die polisie opdaag. Hulle het ’n man gebring wat vir hulle kom wys het waar en deur wie hy beroof is.

Die polisie het toe na bewering die vermeende oortreder begin aanrand.

Geklap

Junaid­, ’n leerder aan die Sekondêre Skool Rusthof, het na bewering sy selfoon uitgehaal en ’n video gemaak.

“Dis toe dat twee van hulle op hom toesak.

“Hulle het hom sewe keer in sy gesig geklap en demand dat hy die video delete.

“Hy het dit gedoen, maar hulle het hom steeds aangerand.”

Julies sê hulle het dieselfde dag nog ’n saak van aanranding gemaak.

“Die volgende dag het iemand by die Strand-polisiestasie gebel om my in te lig dat ’n saak van inmenging in die polisie se werk teen my seun geopen is.

“Ek was geskok. Hy het ’n video gemaak van hoe hulle iemand aanrand. Hoe is dit inmeng?”

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van aanranding is teen die polisie gemaak.

“Dis na die polisie se on­afhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) verwys vir verdere ondersoek.”

Volgens Ndileka Cola, Opod-woordvoerder, het hulle die klag ontvang. Dit word nog ondersoek.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters