13 dae gelede
Swart Krismis
DAKLOOS: Van die 18 strukture wat in ’n brand in Simondium verwoes is.  ~ Facebook

KERSFEES sonder kos, klere en ’n dak oor jou kop.

Dis die groot bekommernis van talle inwoners van Simondium buite die Paarl.

Omtrent 18 huisgesinne het Sondagnag al hulle besittings verloor nadat ’n brand in die informele woonbuurt uitgebreek het.

Nazely Valentyn, ’n gemeenskapswerker, sê niemand is in die brand ernstig beseer nie.

Altesaam 63 mense is nou dakloos en word in die gemeenskapsaal gehuisves.

Die oorsaak van die brand is onbekend.

“ID’s en belangrike dokumente is nou alles verwoes,” vertel Valentyn.

Die plaaslike laerskool, asook ’n paar ander weldoeners, het gisteroggend kos aan die brandslagoffers geskenk.

Valentyn sê hulle sal matrasse en huisware waardeer vir wanneer die inwoners se huise herbou gaan word.

Daar is ook verskeie kinders van 6 tot 12 maande oud wat onder meer weggooidoeke en babakos makeer.

Riana Geldenhuys, ’n woordvoerder van die Drakenstein Munisipaliteit, het die voorval bevestig.

Geldenhuys sê: “Die Drakenstein Munisipaliteit is gisteraand (Sondag) net ná 23:00 in kennis gestel van ’n brand in Simondium se informele woonbuurt.

“Ons brandweerdienste het die brand onder beheer gebring.

“Twee lede van die publiek en ’n brandbestryder het geringe wonde opgedoen.”

Geldenhuys voeg by dat die munisipaliteit se departement van ingenieurswese en sy behuisingsafdeling voertuie verskaf om die puin te verwyder.

Kospakkies

“Sodra dié area skoongemaak en gereed is, sal die munisipaliteit materiaal verskaf aan diegene wat deur die brand geraak is.”

Die munisipaliteit voorsien ook hulpverlening aan die gesinne, wat kospakkies en komberse insluit.

Enige donasies kan by die Simondium Gemeenskapsaal afgelewer word.

  • Lesers kan Valentyn gerus by 072 461 2174 bel vir meer inligting.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters