Verlede maand
Swanger vrou (18) in skietery dood
UITDAGING: Past. Charles George, woordvoerder van die Delft-gemeenskapspolisiëringsforum, sê wat tans in Delft gebeur, is nie goeie nuus nie.  ~ Jonathan Lestrade

’N SWANGER meisie is die naweek in Delft doodgeskiet.

Die 18-jarige vrou was na verneem word agt maande swanger en is in Bontestraat doodgeskiet.

Sy was na bewering ’n ooggetuie in die moord op haar boyfriend ’n maand gelede.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê dit het om 19:40 Saterdagaand in Delft gebeur.

Hy sê: “ ’n 18-jarige vrou is Saterdag by haar huis in N2 Gateway, Delft, doodgeskiet.

Opgespoor

“Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek. Nog geen arrestasies is uitgevoer nie.”

Son het die familie opgespoor, maar hulle het verkies om nie kommentaar te lewer nie.

  • Intussen ondersoek die polisie nóg ’n saak van moord nadat ’n 21-jarige man ook Saterdag in Delft doodgeskiet is.

Van Wyk sê die moord het 19:30 in Limpopo-weg in Eindhoven, Delft, plaasgevind.

“Die motief en die verdagtes is onbekend, en die omstandighede rondom hierdie voorval word ondersoek,” sê Van Wyk.

Past. Charles George, woordvoerder van die Delft-gemeenskapspolisiëringsforum, sê wat tans in Delft gebeur, is nie goeie nuus nie.

“Dit is taxing en traumaties vir inwoners omdat ons nie net met die pandemie te doen het nie, maar ook met bendegeweld en skietery.

“Die afgelope naweek was uitdagend, selfs vir buurtwaglede. Oor die algemeen is dit nie ’n goeie plek om in te wees nie,” verduidelik George.

Hy sê Delft verander dag ná dag, maar raak nie beter nie.

“As dit nie die pandemie is nie, dan is dit ’n honger-kwessie, taxigeweld, bendegeweld, werkloosheid en die lys gaan aan en aan. So, vir mense wat hier bly, het dit wat hulle face, traumaties geword.”

George sê oor die voorval waarin die jong vrou dood is, daar word beweer dat die verdagtes na ’n huis gekom en haar geskiet het en dat die baba ook in die voorval dood is.

“As mens kyk na die soort misdade waarmee ons te doen kry, blyk dit dat die menslike element in die equation verwyder is.

“Ek bedoel dat nie eens ’n dier dit aan ’n ander dier sal doen nie.

“Dit laat mens dink in watter rigting ons beweeg en hoe ons die probleem gaan oplos.”

George sê daar is baie negatiewe dinge wat plaasvind, maar daar moet positief gefokus word.

“Ons moet vra wie ons gaan nooi na die tafel en wie gaan wat doen in die gemeenskap.

“Die grootste stakeholder is die gemeenskap,” verduidelik hy.

George sê hulle vra die gemeenskap om nie inligting van oortreders te weerhou nie, maar met wie praat hulle dan?

Tegnologie

“So, ons moet kyk na 21st century-oplossings oor hoe om misdaad in dié eeu te hanteer.

“Wat ons sien gebeur, is nie iets wat nie opgelos kan word nie.

“Ons het die beskikbare tegnologie en sagteware waar dié dinge ook anoniem gerapporteer kan word,” sê George.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters