Verlede maand
Swanger meisie sterf in skietery
toneel: Die meisie is in die kop getref.FOTO’S Verskaf  ~ 

TERWYL inwoners van die Kaapse Vlakte op die weermag wag om hulle strate teen bendegeweld te beveilig, het nog ’n onskuldige swanger vroutjie haar lewe verloor.

Die slagoffer, net bekend as Tasneem (22), was van Manenberg.

Sy is in ’n skietery Maandag 15:20 noodlottig gewond.

Die meisie het blykbaar saam met ’n groep vriendinne gestaan toe daar ’n skietery tussen rival gangs uitgebreek het.

Dit het in Gamtoosweg naby die Hoërskool Phoenix gebeur.

Dié gebied is berug vir sy bendegeweld.

Terwyl mense die slag­offer omring het, het die cops ambulanspersoneel na die toneel vergesel.

Sien

’n Inwoner wat uit vrees gevra het om anoniem te bly, sê hulle is al siek van die geweld en soek dadelik ’n oplossing.

“Almal praat van die army. Wanneer sien ons hulle hier in ons gemeenskap?

“Jy sien net foto’s in die koerant, maar hulle is nie waar hulle moet wees nie.”

’n Ingeligte het gister aan Son bevestig die slagoffer was swanger.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die tragiese voorval bevestig en gesê die polisie ondersoek ’n moordsaak.

“Die slagoffer is in die kop geskiet. Sy het op die toneel gesterf.”

  • Mense met inligting oor die voorval word gevra om die tolvrye Stop Misdaad-lyn by 08600 10111 te bel.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters