Verlede maand
Swanger mammie net missing
WITWEG: Verocia Tracy Gomez is laas in Meganstraat, Tafelsig, opgemerk.  ~ Foto Verskaf

DIE familie van ’n vyf maande swanger vrou vra die publiek se hulp om haar op te spoor.

Die familie van Verocia Tracy Gomez (35) van Tafelsig in Mitchells Plain sê sy het sewe dae gelede soos mis voor die son verdwyn.

Verocia is laas gesien toe sy in ­Meganstraat, Tafelsig, by haar ouerhuis ­uitgestap het.

Bekommerd

Rivonne Gomez (22) sê sy suster het nog soos gewoonlik van die Sondagdiens ­gekom, die huis aan die kant gemaak en vir haar iets gemaak om te eet voordat sy uitgegaan het.

Hy verduidelik sy suster het besluit om vir ’n walk in die straat te gaan, maar sy het nooit teruggekom nie.

“Ons is bekommerd, want sy is nie iemand wat net weg sal bly sonder om enige iets te sê nie.

“Sy vertel ­altyd my ma waarheen sy op pad is en sal nooit langer as twee dae ­uitslaap nie.

“Sy is ook nie by die verkeerde spanne betrokke nie.”

Rivonne verduidelik die familie het al by ál sy suster se vriendinne, haar boy­friend en sy vriende, asook hul ander familielede gesoek, maar sonder enige ­sukses.

Hy voeg by sy suster het nie ’n selfoon by haar gehad nie en hulle kon haar dus bel nie.

“Daar is mense wat haar in die pad gesien het.

“Sy het in Huguenotlaan se rigting ­geloop, maar dis ál wat ons weet.”

Die broer sê hy glo ook nie sy suster sal haar drie ander kinders vir so lank sommer net los nie.

Hy voeg by sy het ook geen ander rede om weg te hardloop nie.

“Hulle (die kinders) begin om vrae te vra en ons weet nie eintlik hoe om hulle te antwoord nie.

“Ons weet dat sy in goeie gees gaan loop het. Daar was niks stryery nie.

“Ons is nie oukei nie. Ons worry, want jy hoor ál hierdie tipe stories oor vermiste mense.

“Maar ons hou moed dat sy êrens daar buite is.”

Rivonne sê al wat hy graag wil hê, is dat sy suster die familie moet laat weet sy is veilig.

Inligting

“Asseblief, Verocia, maak net kontak met ons. Ons wil net weet of jy veilig is.”

Enige een met inligting kan die Wes-Kaapse eenheid vir vermiste persone kontak by 071 639 8344 of bel gerus die Gomez-familie met inligting by 082 661 7694.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters