13 dae gelede
Swaar gevaar
HIERSO: Dis die swaar hek wat op die seuntjie geval het.  ~ Melinda Stuurman

’N LAERSKOOLSEUN is in die hospitaal nadat ’n swaar ysterhek op hom geval het.

Lohan Booysen (8) se rug en nek is beseer toe die groot, swaar ysterhek in die heining van ’n woonstelblok in Lavender Hill bo-op hom beland het.

Die voorval het Maandagaand by De Korte-woonstelblok gebeur. Lohan is met die ambulans na die hospitaal geneem.

Volgens sy ouma Evan August (75) het hy en vriende buite voor die woonstelblok sokker gespeel.

August sê: “Die hek was stukkend, want iemand het voorheen teen die hek vasgery.

“Ek weet nie wat presies gebeur het nie, maar die hek het losgekom en op hom geval.

“Drie mans moes die swaar ysterhek van hom af optel.

“Hy is met die ambulans na die Melomed-hospitaal in Tokai geneem.

“Niemand van die Stad Kaapstad se mense of die raadslid het al na die hek kom kyk nie.

“Die raadslid is bewus van die hek wat stukkend is, want van die inwoners het al daaroor gekla.”

Volgens Lohan se pa, Stefanus Booysen (52) het van die inwoners die hek reggemaak om te keer dat nog niemand seerkry.

Booysen sê: “(Lohan se) ma is tans by hom in die hospitaal oor daar weens Covid-19 net een ouer toegelaat mag word.

“Hulle het weer gister­oggend toetse gedoen en wag nog op die uitslae.

“Hy het gisteraand ná die ongeluk gekla dat sy rug baie pyn.”

Volgens Marita Pietersen, raadslid in Lavender Hill, het sy die probleem lankal onder die behuisingskantoor se aandag gebring.

Jammerte

Pietersen sê: “Sedert die lockdown is daar ’n vertraging in lewering van diens­te.

“Dit is ’n jammerte dat die seuntjie in die voorval beseer is.

“Hy het na verneem word aan die hek gehang of wou die hek toegemaak het.

“Die behuisingskantoor moet mense uitstuur om die hek te herstel.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters