24 dae gelede
Suster soek net geregtigheid
BESEER: Só het klein R-Jay Mouers ná die ongeluk gelyk.  ~ Foto Verskaf

’N FAMILIE soek die bestuurder wat vir die dood van twee mense verantwoordelik is, agter tralies.

Anthea Mouers en haar twee kinders, Lethea (14) en R-Jay (4), is ook ernstig beseer en in ’n kritieke toestand in die hospitaal.

Die voorval het meer as ’n maand gelede plaas­gevind in 35ste Laan, Connaught Estate in Ravensmead.

Mouers se suster, Elaine Dennis, het aan Son gesê sy wil hê die bestuurder, Mouers se boyfriend, moet boet vir sy dade.

Volgens haar was hy dik gesuip en is hy nooit eens toegesluit nie.

Dennis sê die boyfriend het só vinnig gery, haar suster en albei haar kinders het breinskade opgedoen.

Mouers en haar seuntjie, R-Jay, sterk steeds in die hospitaal aan.

Lethea is onlangs ontslaan en sterk tans tuis aan.

Dennis sê haar suster is baie deurmekaar en onbewus van wat rondom haar aangaan.

Haar seuntjie is in dieselfde toestand en hy sukkel ook om te eet, sê Dennis.

Dennis vertel: “Sy en die klong het erge breinskade opgedoen.

“Net tyd sal kan sê of hulle volkome sal herstel.

“Hy sit al regop, maar hy kan nie lekker loop nie, want sy been is skeef.

“Die dokters sal kyk om dit in ’n latere stadium reg te maak.”

Dennis sê sy wil hê geregtigheid moet geskied.

“As ’n mens dronk gevang word, dan word jy toegesluit vir ’n hele naweek.

“Hy het moord gepleeg, maar hy loop nog vry rond.

Manslag

“Hy was dik gesuip en ek wil weet hoekom hy nog vry loop. Hy kom weg met moord!”

’n Woordvoerder van die polisie, Siyabulela Malo, het bevestig die polisie ondersoek tans ’n saak van strafbare manslag.

Malo sê dis nadat ’n ongeluk op 13 Oktober in 35ste Laan in Ravensmead plaasgevind het.

Hy verduidelik: “Toe die polisie by die toneel opdaag, was daar twee voertuie wat in die ongeluk betrokke was.

“Twee slagoffers, ’n vrou (64) en ’n man (40), is op die toneel dood verklaar.

“Drie slagoffers wat beseer is, is na die naaste hospitaal geneem vir mediese behandeling.”

Volgens Malo word die omstandighede rondom die voorval nog ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters