25 dae gelede
Sussie uit vol kerk begrawe
Draers: Allison Plaatjies se familie en vriende dra haar kis by die Anglikaanse kerk in Swellendam in.  ~ Foto Verskaf

“ ’N OOMBLIK het sy gesweef van geluk.

“Sy het haar eerste werk gekry, haar eerste kar. Maar nou vlieg jy vir ewig hoog.”

Só het een van Allison “Sussie” Plaatjies se vriendinne haar die naweek gegroet.

Die 26-jarige onderwyseres is Saterdag vanuit ’n stampvol kerk in Swellendam begrawe.

Philip April (24), haar gewese boyfriend, is in aanhouding vir haar moord.

Sy familie is gevra om nie die diens by te woon nie.

Staaltjies

Plaatjies se kollegas en leerders van die Primêre Skool Sederberg in Clanwilliam was wel daar.

Plaatjies se vriende in haar tuisdorp het blomme in hulle hare gedra ter herinnering aan haar gunstelingliedjie, Sandi Thom se “I Wish I Was a Punk Rocker (with Flowers in My Hair)”. Dit is ook hulle wat die rouklaers in trane gehad het met staaltjies oor Plaatjies en briewe aan haar.

Shaheemah Lottering het gesê: “Ons harte is baie seer, maar ek weet en hoor duidelik hoe jy lag en grap oor hoe ons jou nodig het. Ek is 100% seker dat jy jou engel-pos met oorgawe gaan vul.”

Haar beste vriendin, Kim Matthysen, het gesê: “Van laerskool tot hoërskool was ons vinkel en koljander. Jy het seker gemaak dat ek jou belowe dat jy my strooimeisie sal wees, maar hoe nou? Ek het so uitgesien na nog memories maak.”

Plaatjies se klasleerders het ná die verrigtinge duiwe vrygelaat.

Dit simboliseer dat haar siel ook nou vry is.

Plaatjies se niggie en grootmaakma, Liezel Plaatjies, het gesê alles het mooi afgeloop. “Ons treur nog, maar ons is nie meer mismoedig nie.”

  • April verskyn Woensdag weer in die Clanwilliam Landdroshof vir die moord op Plaatjies, motordiefstal en dwarsboming van die gereg.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
5 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters