Verlede maand
Sussie erg geskend
ONDERSTEUNING: ’n Groep betogers vanuit die Kaap het buite die hof gestaan.  ~ Melinda Stuurman

ALLISON “Sussie” Plaatjies se gesig was vol bytmerke asof sy deur ’n wilde dier aangeval is.

Sy het ook ’n diep sny oor haar ken gehad. Die beserings aan haar gesig was só erg dat haar familie niemand die lyk wou laat sien op haar funeral nie.

Haar vermeende moordenaar, Philip April, het Woensdag sy gesig met sy hande probeer verberg toe hy in die Clanwilliam Landdroshof verskyn het.

Philip het sy borgtog-aansoek teruggetrek. Geen rede is daarvoor aangedui nie.

Hy was geklee in dieselfde baseball jacket as tydens sy vorige verskyning. Hy het ook ’n blou jean saam met vuil blou Vans-tekkies aangehad.

“Maak toe jou gesig, Boeta!” het sy familie en vriende uit die hofgalery aan hom geskreeu.

“Wat julle nou doen, is viktimisering!” het hulle vir die media geskreeu.

Van die familielede het saam met Philip gehuil toe hy in trane uitbars.

Philip en Sussie het drie jaar uitgegaan.

Toebek

Plaatjies, ’n onderwyser aan die Primêre Skool Sederberg, se lyk is op Sondag 27 Oktober gevind in haar flat, waar sy minder as ’n maand gewoon het.

Die Swellendammer het in Januarie permanent by dié skool begin. Philip, ’n Clanwilliamer, het ook by die skool afgelos. Hy en Sussie het op CPUT se Wellington-kampus ontmoet.

Sedert die voorval is Clanwilliamers toebek oor Sussie se dood, maar praat van Philip as ’n kind uit ’n gesiene familie.

Gister by die hof was dit ook duidelik dat die meeste inwoners agter Philip en sy familie staan. Dié hofgangers en nuuskieriges buite die hof het die media pangakyke en -woorde gegee.

’n Groep betogers teen vroue- en kindergeweld van buite die dorp het voor die hof met posters gestaan.

“Ons is hier om die dame wat haar lewe verloor het te ondersteun. Ons wil haar stem wees en seker maak geregtigheid geskied,” het Melanie Marais dit uitgestippel.

Sussie se ma, Elize Plaatjies, en haar grootmaakma, Lizel Plaatjies, het ook die hofverrigtinge bygewoon.

Landdros Vanessa Duimelaar het die saak tot Februarie volgende jaar uitgestel.

Sy het Sussie se kollegas wat ook in die hof was, aangespreek. “Nog nooit het ek in so ’n kort rukkie so ’n vlaag aanvalle op vroue gesien nie. En dit net vir Clanwilliam en Citrusdal. Julle het ’n verantwoordelikheid om die leerders op te voed en om hulle te leer om nie hulle hande vir vroue te lig nie.

“Dit is die beste wat julle vir hulle kan doen.”

Die saak is uitgestel vir nader ondersoek en ook om te beslis of die verhoor in die hooggeregshof of streekhof sal wees.

Sussie se ma, Elize Plaatjies, wou nie ná die hofverrigtinge met die media gesels nie.

Die familie is ná die verrigtinge na Sussie se woonstel, waar van haar goed nog staan. Dit sal volgende week aangery word.


VERDAGTE: Philip April was emosioneel in die beskuldigdebank.
Allison “Sussie” Plaatjies


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters