10 dae gelede
Suit, tie, lat waai
EERSTE DAG: Dié voetjies in die nuwe skoolskoene raak nog nie die grond nie, maar hy is darem al op die groot skool se stoele.  ~ Tracy-Lynn Ruiters

BLINK ogies met splinternuwe skoolstrikke in die hare en ’n opgewonde “baai, Mommy” aan ’n betraande vrou.

Só het die rolle vanjaar omgeruil: Ouers het gehuil en happy kinders kon nie wag om by die skoolbanke in te skuif nie.

Weens die voortslepende Covid-19-pandemie was die begin van vanjaar se skooljaar straks die moeilikste tot nog toe.

Maar die klein haasbekkies, dapper in hul nuwe skoolklere en -skoentjies, was gister slaggereed om met skool te begin.

Weens Covid-19-regulasies is 0uers voor die skoolhekke voorgekeer. Hulle moes net daar hul kind se hand los.

By die Primêre Skool Woodville in Mitchells Plain het leerders die kans gehad om Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, te ontmoet.

Schäfer het gesê sy was trots om te sien hoe gereed die skole was.

“By die skole wat ek besoek het, het die kleintjies geweet hulle moet hul masker dra, sosiale distansiëring toepas en hul hande skoonhou.

“Ons het oor die afgelope twee weke in die distrikte oorsigbesoeke gedoen en volgens my inligting was ál die skole gereed om voort te gaan.”

BLINK SIKSPENS: In hul splinternuwe skooldrag is die klas slaggereed vir die nuwe fase in hul lewe. Foto: Peter Abrahams

Tog het nie alles in die provinsie reg verloop nie.

Die minister sê hoewel hulle 1,1 miljoen leerders verwelkom het, is daar 10 000 wat nog nie in ’n skool plek het nie.

“Meer as 8 000 kinders wat aansoek gedoen het, soek nog plek. En 2 000 van die 10 000 het te laat aansoek gedoen. Ons sal aanhou totdat hulle plek kry.”

Daar is ook die hartseer nuus dat 104 onderwysers hul lewe as gevolg van Covid-19 verloor het.

Die minister sê hul deure sal altyd oop wees vir dié wat berading nodig.

HULLE GEE OM: Vir talle ouers was die afskeid op die eerste skooldag moeiliker as vir die kind wat alleen deur die skoolhekke moes gaan. Foto: Peter Abrahams

Intussen is 59 skole in Desember en Januarie gevandaliseer.

Schäfer verseker dit sou nie die heropening gekeer het nie.

Die minister het dít te sê gehad vir leerders wat nog nie teruggekom het skool toe nie: “Jou skoolloopbaan beïnvloed alles wat jy in die toekoms doen. Heroorweeg jou besluit en onthou: Die kans dat die virus sal versprei, is hoër by die huis as by die skool. Om skool te kies is ’n wen-wen-situasie.”

EK'S HIER: Klein Shalem Carelse sit gereed in die gr. R-klas by Woodville Primêr. Foto: Peter Abrahams

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters