28 dae gelede
Studente ‘reg vir nóg aksie’
pasop! Die studente-aktivis Mcebo Dlamini meen die regering moet die studente vrees. Foto’s: ABRIE BURGER  ~ 

STUDENTE kan universiteite se kampusse weer laat ontplof.

Só is gister gedreig toe hordes studente in Kaapstad opgeruk het parlement toe.

Hulle kla die politici gebruik hulle net soos kondome en smyt hulle agterna weg.

Hulle eis die klagte teen medestudente wat hofsake trotseer weens die vroeëre onluste in die #FeesMustFall-veldtog moet teruggetrek word.

Athabile Nonxuba, ’n student aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT), sê: “As die regering nie na ons eise luister nie, gaan die universiteite weer kook.

“Ons gaan die LP’s wat nie na ons wil luister nie, dwing om na ons kampusse te kom en ons kwessies uit te sort.”

Ayakha Magxothwa, president van die KSUT-studenteraad, sê die gearresteerde studente het geen misdaad gepleeg nie.

Magxothwa sê: “Ek was op 23 Oktober 2017 dan ook vir openbare geweld gearresteer. My saak is eers op 23 Junie teruggetrek.

“Al wat ons weet, is dat ons onse stemme dik gemaak het vir gratis tersiêre opvoeding. As ons die wet oortree het, waarom het die president (Jacob Zuma) toe gratis opvoeding ingestel?”

Mcebo Dlamini, voormalige president van Wits se studenteraad, moedig studente aan om by hul beginsels te bly staan.

Dlamini, wat na verwagting in September gevonnis sal word nadat hy skuldig bevind is op klagte van openbare geweld, meen die politici gee g’n duit om vir arm swart studente nie.

Hy sê: “Die mense moet óns vrees. Ons kan nie toelaat dat ons die regering vrees nie.

“Dié politicians wat jy dink jou vriende is oor hulle vir jou duur whiskey koop, is nooit daar die dag wanneer jy hulle die nodigste het nie.

“Sien, hulle koop vir jou die duur whiskey en as jy huis toe gaan, het jy nie eens ’n R5 in jou sak nie.

“As ons nie onsself ernstig opvat nie, gaan niemand anders dit doen nie.”

Die minister van justisie, Michael Masutha, het die studente se memorandum ontvang. Hy sê mense wat deur klagte in die gesig gestaar word of al gevonnis is, kan deur sy departement aansoek doen om hulp.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters