29 dae gelede
Student sterf ná skote in sy gesig
STERF: Bryton Spogter (18) is Woensdagoggend koelbloedig in Hillview doodgeskiet.  ~ 

’N JONG man van Hillview by Lavender Hill is ’n dag voor sy verjaardag afgemaai.

Dié laitie, Bryton Spogter, wat laas jaar in matriek was, is gisteroggend in Tafelbergstraat verskeie kere in die gesig geskiet.

Die slagoffer sou vandag sy 19de verjaardag gevier het.

Die voorval het omstreeks 07:30 gebeur toe Spogter op pad was na sy kollege.

Volgens inwoners wat verkies om anoniem te bly, het die drie mans met plastieksakke in hulle hande in St. Edwardstraat afgeloop.

Hulle het op Spogter losgebrand en hom eers in die been gewond.

Hy het toe weggehardloop en ingehardloop by ’n huis se jaart in Tafelbergstraat.

Die jongens het tot by hom gekom en hom drie keer in die gesig geskiet. Hy is op die toneel dood.

Volgens die inwoners wat die skote gehoor het, moes die kinders wat op pad was skool toe, hardloop vir skuiling.

  • In ’n ander skietvoorval wat Dinsdagaand in Hanover Park gebeur het, is die eienaar van ’n tuck shop doodgeskiet.

Die 29-jarige Somaliese winkeleienaar, wat bekend staan as Omar, is in sy winkel doodgeskiet.

Die voorval het omstreeks 22:00 in Ash Close gebeur. Hy is op die toneel dood.

Lt.kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê die omstandighede rondom die twee skietvoorvalle is in dié stadium onbekend. Dit word nog ondersoek.

Niemand is tot dusver in verband met die moorde gearresteer nie.

Twee moorddossiere is aangelê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters