3 dae gelede
Student se lyk is eers weggesteek
Uyinene Mrwetyana  ~ Foto Verskaf

TWEE keer gepenetreer, onder meer met ’n onbekende voorwerp.

Dít is die hel wat die UCT-student Uyinene Mrwetyana in haar laaste oomblikke op aarde moes deurmaak.

Mrwetyana (19) se wrede verkragting en moord het vroeër vanjaar gelei tot landwye betogings teen geweld teen vroue en kinders.

Sy’t op 24 Augustus vermis geraak toe sy ’n pakkie by die Clarenreich Poskantoor in Claremont gaan haal het.

Aangekla

Luyanda Botha, ’n poskantoorwerker, is op 29 Augustus ná ’n polisieondersoek gearresteer.

Botha (42) sal op Vrydag 15 November in die hooggeregshof verskyn. Twee klagte van verkragting en een van moord staar hom in die gesig.

Hy word ook van dwars­boming van die gereg aangekla nadat hy Mrwetyana se liggaam na bewering verbrand het.

Die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, adv. Rodney de Kock, kla aan namens die staat.

Luidens hofdokumente was die poskantoor al gesluit toe Mrwetyana op Saterdag 24 Augustus haar pakkie gaan haal het.

Botha was alleen daar en het haar ingelaat. Dit was die laaste keer dat sy lewend gesien is.

Die dokumente lees: “Die staat beweer Botha het Mrwetyana twee keer verkrag en toe doodgeslaan.

“Hy het toe haar liggaam in die poskantoor se kluis weggesteek. Op Sondag 25 Augustus het hy die liggaam verwyder en dit met sy kar na ’n veld in Lingelethu-Wes in Khayelit­sha vervoer.

“Hy het die lyk gedump, dit met brandstof besprinkel en aan die brand gesteek.”

Luidens die dokumente het Botha ná sy arrestasie op 29 Augustus ’n verklaring aan die polisie gemaak en die lyk uitgewys.

’n Nadoodse ondersoek wys Mrwetyana het weens ’n hoof­besering gesterf.

Die staat beweer Botha het Mrwetyana se liggaam verbrand en toe die forensiese bewyse vernietig deur sy kar te laat skoonmaak.

Botha het Maandag in die Wynberg Landdroshof verskyn. Sy saak is tot Vrydag uitgestel.

Dis nog nie duidelik of hy skuldig of onskuldig gaan pleit nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters