3 maande gelede
‘Straf boelies‘
staan by: Aneeqah van Rooyen se vriendin keer af.FOTO’S verskaf  ~ 
vat so: Die boelie klap Aneeqah van Rooyen deur haar gesig.
onbeskof: Die boelie druk haar vinger in Aneeqah van Rooyen se gesig.

’N GROEP boelies wat behep is daarmee om video’s te maak terwyl hulle leerders aanrand, het ’n meisie se hele skoolloopbaan verwoes.

Aneeqah van Rooyen (16), ’n leerder van die Hoërskool Strand, is ’n jaar lank in die gesig geklap, geslaan, vloekwoorde toegesnou en ook voor ’n kar ingegooi.

Haar ouers sê Aneeqah is nou die laughing stock van die skool nadat die video’s op sosiale media versprei is.

In een van die video’s wat Son onder oë gehad het, kan duidelik gesien word hoe Aneeqah aangerand word.

Die boelie se vriende skreeu: “Moer die ding! Moer haar!”

Ná die bakleiery skreeu die boelie: “Nou kan jy vir jou ma en die polisie gaan haal. Ek gee nie ’n f*k om nie.”

Aneeqah se ouers het haar onlangs vir haar eie veiligheid uit die skool gehaal omdat hulle meen daar word nie teen die boelies opgetree nie.

’n Tengerige Aneeqah was in trane toe sy Son van haar ordeal vertel het.

Sy het gesê sy is getraumatiseerd en is bekommerd oor haar skoolloopbaan.

Aneeqah begin volgende week met eksamens, maar sal dit nie kan skryf nie oor sy te bang is om terug te gaan skool toe.

Die tiener het gesê dis nie regverdig dat al haar vriende by die skool is, maar nie sy nie.

Sy’t Son van een van die vele voorvalle – op 12 Februarie – vertel.

“Die meisie het my boeke uit my hand geruk.

“Sy’t my begin rondstoot en een van haar vriende het my begin slaan.

“Ek het bang en geskok gevoel.”

Aneeqah se pa, Riyaaz, sê hy is moedeloos en voel die onderwysstelsel het hom gefaal.

Volgens Van Rooyen het die polisie die skool en die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) genader, maar niks het tot dusver van die saak gekom nie.

Van Rooyen het gesê: “Ek het ’n senior beampte van die WKOD gekontak.

“Hy het net gesê hulle beskou die voorval in ’n ernstige lig, maar verder is niks gedoen nie.

“Die skoolhoof het net gesê hulle volg prosedures en hy’s tans besig om die saak te ondersoek.

Lieg

“Ek dink nie dis regverdig dat daai kinders nog in die skool is, maar nie my kind nie.

“Die kind het ’n saak teen my kind gemaak en vir die polisie gaan lieg.

“Ons het bewyse van hoe my kind aangerand is, maar die polisie het dit nie eens gevat nie.

“Hulle wou liewer by my kind weet wat sy gedoen het.”

Volgens Van Rooyen het die polisie gister aan hom gesê die saak is vir volgende maand op die hofrol geplaas.

By Son se besoek aan die skool het die skoolhoof gesê hy mag nie praat nie, maar het wel aan Van Rooyen gesê hy het die boelie geïdentifiseer en sal nou verdere stappe doen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters